
Ons is besig met ‘n reeks artikels oor ‘n paar besondere vroue in die Ou Testament. Sover het ons gesels oor Naomi, Orpa en Rut. Vandag gaan ons gesels oor Vasti, die koningin van wie ons in die begin van die boek Ester lees.
VASTI Sê NEE.
Die boek Ester begin deur vir ons te vertel van die feesmaal wat Ahasveros, wat in daardie tyd oor 127 provinsies regeer het, gehou het vir sy hoë amptenare en dienaars.
Na die feesmaal spog hy vir 180 dae lank met alles wat aan hom behoort, sodat almal kan sien hoe ‘n belangrike man hy nou eintlik is.
Maar hy hou nie daar op nie. Na die 180 dae hou hy weer ‘n feesmaal. Hierdie een duur sewe dae en almal, van die rykstes tot die armstes, word genooi om dit by te woon.
Vasti, die koningin, hou ook in daardie tyd ‘n feesmaal vir die vroue.
Op die sewende dag is die koning baie vrolik van al die wyn wat hy gedrink het. En skielik kry hy die idee dat dit darem nou tyd is om met sy vrou ook te spog.
Hy gee dus vir sewe van sy paleisamptenare die opdrag om vir koningin Vasti te gaan sê sy moet haar kroon op haar kop sit en voor die mense kom rondparadeer, sodat almal kan sien hoe ‘n beeldskone vrou sy is.
En dan gebeur die ondenkbare.
In plaas daarvan dat Vasti met haar kroon op voor die koning en sy gaste verskyn, stuur sy vir hom ‘n boodskap terug dat sy dit beslis nie gaan doen nie.
DIE LIGGAAM, GOD SE TEMPEL.
Ek weet nie of dit regtig so is nie, maar ek het gehoor die feit dat daar pertinent gesê word Vasti moes met haar kroon op voor die koning verskyn, beteken dat dit al was wat sy moes aanhê. Die arme vrou moes dus voor haar man en al sy gaste, haar naakte liggaam kom ten toon stel!
Maar Vasti kies om dit nie te doen nie.
Sy het te veel respek vir haarself om haar in so ‘n posisie te begewe. Sy weet haar ‘nee’ gaan haar die koning se woede op die hals haal, maar sy gee nie om nie. Dus kies sy om eerder die guns van die koning te verloor as om haar waardigheid te verloor.
Ons leef in ‘n tyd waar dit algemeen is om halfnaakte vroue in tydskrifte en op advertensieborde te sien. Soms sien mens selfs op televisie ‘n vrou wat heeltemal naak is.
Dit mag vir die wêreld ‘n aanvaarbare praktyk wees, maar vir ons as Christene moet dit nie so wees nie.
In 1 Korinthiërs 6:19-20 lees ons: “Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.”
Omdat ons liggame die tempel van die Heilige Gees is, moet ons dit met respek behandel en God daarmee verheerlik.
Moet dus nie toegee aan die versoeking om die gebruike van die wêreld te volg waar dit jou liggaam aangaan nie. Onthou dat jy duur gekoop is en dat God, deur die Heilige Gees, binne jou woon. Behandel jou liggaam daarom soos die tempel van God en verheerlik Hom daarmee.
DIE KONING SE BESLUIT.
Koning Ahasveros is, soos jy kan dink, glad nie beïndruk toe hy hoor Vasti weier om te kom nie.
Hy het al gesien hoe al sy gaste hom op die skouer klop en gelukwens omdat hy so ‘n mooi vrou het, en nou vang sy so ‘n ongehoorde ding aan! Wat sal sy gaste nóú van hom dink?
Dan neem die koning ‘n besluit wat hy later berou het. In plaas daarvan om die saak met sy vrou uit te praat, vra hy sy raadgewers wat volgens wet met koningin Vasti gedoen moet word.
Die raadgewers laat nie op hulle wag nie. Hulle vertel die koning dat Vasti se optrede ‘n landsprobleem gaan veroorsaak. As die vroue in die land hoor wat sy gedoen het, gaan hulle ook nie meer ontsag vir húlle mans hê nie. Daarom moet daar nou dadelik ‘n voorbeeld van Vasti gemaak word.
Hulle dring by die koning daarop aan dat hy ‘n bevel uitvaardig wat sê dat Vasti nooit weer voor hom mag verskyn nie. Dan moet hy vir hom ‘n ander vrou soek wat haar beter sal gedra as Vasti.
So gesê, so gedaan.
Die koning vaardig die wet, wat nie herroep kon word nie, uit. Vasti verloor in een dag se tyd haar man, haar status, haar besittings en haar weelderige lewenswyse.
VERLOORDER OF OORWINNAAR?
Dit mag lyk of Vasti darem baie swaar gestraf word omdat sy geweier het om die koning te gehoorsaam.
Sy behou nou wel haar waardigheid, maar in die proses verloor sy al die ander dinge wat vir haar belangrik was.
Maar Vasti is beslis nie ‘n verloorder nie. Op daardie dag het sy as oorwinnaar uit die stryd getree en sy word vandag nog as voorbeeld voorgehou.
Al het sy nie vir God geken nie, kies sy om te doen wat reg is, ongeag wat dit haar kos.
Ek en jy gaan ook baie keer in die lewe voor sulke keuses staan.
En as ons voor die keuse staan, wat gaan ons doen? Gaan ons Vasti se voorbeeld volg en die regte ding doen, al beteken dit dat dit ons iets gaan kos?
Of gaan ons kies om die weg van die minste weerstand te volg en doen wat verkeerd is?
Ons moet sommer nou al, voor ons nog voor die keuse staan, besluit om die regte ding te doen, ongeag wat dit ons gaan kos.
SPYT KOM ALTYD TE LAAT.
Die feesmaal is verby. Die gaste is huistoe. Koningin Vasti is weg uit die paleis. En koning Ahasveros is weer nugter.
Noudat die wyn, waarvan hy so baie gedrink het, nie meer ‘n invloed op hom het nie, begin die koning dink aan die dom besluit wat hy geneem het.
In Ester 2:1 lees ons: “Ná hierdie gebeure, toe koning Ahasveros se woede bedaar het, het hy aan Vasti gedink, aan wat sy gedoen het en hoe oor haar besluit is.”
Hierdie vers is nie sommer net in die Bybel geskryf nie. Ek is oortuig daarvan dit is ingesluit om vir ons te sê dat die koning spyt gekry het oor sy besluit. Maar spyt kom ongelukkig altyd te laat. Die bevel wat uitgevaardig is, is een wat nie herroep kon word nie. Dus is die koning vir altyd sy koningin Vasti kwyt.
HAASTIGE HOND VERBRAND SY MOND.
Daar is ‘n gesegde in Afrikaans wat lui: Haastige hond verbrand sy mond.
Koning Ahasveros het ‘n haastige besluit geneem omdat hy kwaad en dronk was. En later was hy spyt daaroor.
By hom kan ons leer dat ons nooit oorhaastig ‘n besluit moet neem nie. ‘n Mens weet nooit hoe spyt jy agterna oor so ‘n besluit gaan wees nie. Dalk werk alles reg uit, soos jy gehoop het, maar jy het geen waarborg dat dit so gaan wees nie.
So, dink mooi voor jy ‘n besluit neem, veral ‘n belangrike een.
Moenie toelaat dat woede, stres of die druk van ander jou ‘n oorhaastige besluit laat neem nie.
VASTI, ‘N VOORBEELD VIR VANDAG.
Ons lees nooit weer in die Bybel van Vasti nie. Maar sy bly vir elkeen van ons ‘n voorbeeld wat ons maar kan navolg.
Sy was bereid om die regte ding te doen, al het dit haar ‘n hoë prys gekos. Sy was bereid om vir haar man ‘nee’ te sê om haar eie waardigheid te behou.
Ek en jy moet te alle tye ons geloof in die wêreld uitleef. Dit beteken dat ons heilig moet leef, selfs al veroorsaak dat dit ons nie baie gewild is onder mense nie.
Dit beteken ook dat ons God in ons liggame moet verheerlik en nie die gebruike van die wêreld moet volg nie.
En laastens beteken dit dat ons ook ‘nee’ moet sê wanneer ons huweliksmaat dalk iets van ons verwag, wat indruis teen wat God in Sy Woord vir ons sê.
So, kom ons volg Vasti se voorbeeld, want sy was voorwaar ‘n beginselvaste vrou!
Besoek ons winkel vir verskillende Bybelstudie-hulpmiddele.

