
As jy jou Bybel naastenby in die middel oopmaak, gaan jy waarskynlik by Psalms oopmaak. Dis ‘n versameling liedere, gedigte en gebede wat die mens se hart en siel goed weerspieël.
Baie van die psalms is deur Dawid geskryf. Ons gaan vandag na een van dié psalms kyk om te sien wat ons alles daaruit kan leer.
Ons gaan stappe van twee verskillende Bybelstudie-metodes met mekaar kombineer: die Swaard-metode en die WORD-metode. Maar ons gaan nie al die stappe van die metodes gebruik nie. Ons gaan ‘n paar stappe by die een leen en ‘n paar by die ander een.
Voor ons met ons studie begin, kom ons lees eers wat staan in Psalm 139.
PSALM 139.
Vir die musiekleier. Van Dawid. ‘n Psalm. Here, U ondersoek my en U ken my.
U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het.
My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend.
Ja, daar is nog nie ‘n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, Here, dit volledig!
Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my.
Om dit te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.
Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?
Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die doderyk – ook daar is U!
Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see;
ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou.
En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”,
is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig.
Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.
Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed.
My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde.
U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.
En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan!
As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U.
As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af!
Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef.
Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie ‘n weersin hê nie?
Ek haat hulle met ‘n intense haat; vyande het hulle vir my geword.
Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.
Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.
AGTERGROND.
Vir hierdie studie gaan ons eers ‘n paar vrae oor die agtergrond van die psalm, asook die boek van Psalms, antwoord.
WIE HET DIE GEDEELTE GESKRYF?
Dawid is die skrywer van Psalm 139.
WATTER TIPE LITERATUUR IS DIE GEDEELTE?
Die Psalm-boek is ‘n versameling gedigte, gebede en liedere. Psalm 139 is een van die liedere-psalms.
WANNEER IS PSALMS GESKRYF?
Die gebede, gedigte en liedere wat in Psalms voorkom is deur verskillende skrywers geskryf. Party van die liedere en gedigte dateer selfs eeue uit mekaar.
Dit is met verloop van tyd in kleiner versamelings bymekaar gesit. Die boek, soos ons dit nou ken, het eers na 516 vC sy finale vorm gekry.
WAARNEMING.
Noudat ons ‘n bietjie meer oor die agtergrond weet, is dit tyd om waar te neem wat in die gedeelte staan.
WAAROOR HET DAWID GESKRYF?
Dawid skryf oor God se grootheid. Hy besef dat God alles van hom af weet. Daar is niks wat hy vir God kan wegsteek nie.
Hy besef ook dat God oral teenwoordig is. Dit maak nie saak waar hy homself bevind nie, God is daar.
Verder skryf Dawid daaroor dat God hom – en elkeen van ons – geskep het en dat alles omtrent ons wonderlik is.
Laastens vra hy die Here om hom te ondersoek en om te kyk of hy nie op die verkeerde pad is nie. Dan vra hy dat die Here hom op die regte pad, die ewige pad, lei.
WAT LEER DIE GEDEELTE OOR GOD?
God is alwetend. Hy weet alles van ons af. Hy het ons geken nog voor ons gebore is, want Hy is die Een wat ons geskep en in ons moederskoot gevorm het. Dit beteken daar is niks wat ons vir Hom kan wegsteek nie.
God is ook alomteenwoordig. Dit maak nie saak waar ons is nie, God is daar.
In vers 3 sien ons dat God ‘n plan vir elkeen van ons het. Ons lewens is letterlik in Sy boekrol opgeteken.
Vers 5 leer ons dat God ons beskerm.
Die laaste twee verse leer ons dat God altyd daar is om ons op die regte pad te lei.
WAT LEER DIE GEDEELTE OOR MENSE?
Mense is goddeloos. Hulle maak dood sonder om twee keer te dink.
Hulle haat mekaar en is baie keer vyandig gesind teenoor mekaar.
Dan verkondig hulle ook maklik leuens oor God asof dit die waarheid is.
WAAROM TREE MENSE SO OP?
Ons kry die antwoord in vers 19.
Mense tree op soos hulle optree omdat hulle goddeloos is.
Sonder God in ons lewens kan ons nie anders as om sonde te doen nie.
TOEPASSING.
Die belangrikste deel van ‘n Bybelstudie is die toepassing. Jy moet altyd kyk hoe jy dit wat jy geleer het, in jou lewe kan toepas.
Ek deel graag met jou hoe ék die gedeelte in my lewe sal toepas:
Ek kan hierdie gedeelte in my lewe toepas deur te onthou dat God alles weet. Daarom kan ek kan eerlik wees teenoor Hom wanneer ek bid.
God is ook altyd by my. Ek hoef dus nooit bang te wees nie. Ek kan Hom vertrou om my te beskerm en vir my te sorg.
Verder kan ek onthou dat God ‘n plan vir my lewe het. Hy sal my lei om Sy plan te volg, maar ek moet bereid wees om saam met Hom te werk. As ek nié doen wat Hy my wys om te doen nie, gaan ek nie by Sy plan vir my lewe uitkom nie.
VERSE OM TE BID.
In die laaste twee verse van Psalm 139 lees ons Dawid se gebed. Daar staan:
Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.
Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.
Dis ‘n goeie gebed om te onthou sodat ons dit ook van tyd tot tyd kan bid.
‘n Mens is soms blind vir jou eie foute. Dis waarom ons God moet vra om ons te wys wanneer ons op die verkeerde pad is.
Saam met Dawid kan ons hierdie gebed bid en God vertrou om ons op die regte pad te lei, ter wille van Sy Naam!
OM OOR TE DINK.
Noudat jy Psalm 139 beter verstaan, is dit tyd om oor jou eie lewe te dink.
- Is jy eerlik met God wanneer jy bid? Onthou, Hy weet in elk geval alles, so jy kan niks vir Hom wegsteek nie.
- Vertrou jy God dat Hy ‘n goeie plan vir jou lewe het? Is jy besig om die pad saam met Hom te stap, sodat jy Sy plan kan uitleef?
- As God jou wys dat jy op die verkeerde pad is, is jy bereid om ‘n koersaanpassing te maak sodat jy op die regte pad kan loop?
Dink bietjie oor hierdie vrae, sodat jy dit wat jy uit Psalm 139 geleer het, ook in jou eie lewe kan toepas.

Dus interessant , sal meer wil leer oor die Woord
Dankie Risa. Ek het die Bybelstuk van Dawid gelees en Geniet. Seën Groete Valencia
Hi Valencia. Bly dit het iets vir jou beteken!
wil God se woord beter verstaan,wil Nader aan God leef en Meer weet van Sy woord
wil God ken in persoon n dieper verhouding met hom het
Willem, die beste manier om God beter te leer ken is om tyd met Hom in die Bybel en in gebed te spandeer. Wanneer jy Bybel lees of Bybelstudie doen, kyk eerstens na wat jy uit die gedeelte oor God leer. Kry vir jou ‘n notaboek of joernaal en skryf neer wat jy leer. Dit sal jou help om meer op God te fokus wanneer jy met die Bybel besig is. Dit sal jou ook help om Sy karakter beter te leer ken. Sterkte!
Wil Meer weet oor God’s woord