‘N BYBELSE KARAKTERSTUDIE OOR JOSEF

Kamele in die sonsondergang. Karakterstudie oor Josef.

As jy gereeld ‘n draai hier by Bybel En Gebed maak, dan weet jy dat ons al baie gesels het oor verskillende Bybelstudie-metodes. Sommige van dié metodes is eenvoudig en vat nie baie tyd nie. Ander is weer bietjie moeiliker en vat dan ook langer. Een van dié metodes is die karakter-studiemetode.

Dis ‘n metode waar jy ‘n spesifieke karakter in die Bybel kies en dan ‘n studie doen oor daardie karakter.

Dit maak nie saak watter karakter jy na kyk nie, ons kan by almal iets leer – by party net meer as ander!

In hierdie artikel gaan ons ‘n Bybelse karakterstudie oor Josef doen om uit te vind wat ons alles by hom en oor hom kan leer.

KIES ‘N KARAKTER.

Die eerste stap van ‘n karakterstudie is om ‘n karakter te kies wat jy wil studeer. Soos ek gesê het, ons gaan na Josef kyk.

‘n Mens lees van Josef in die laaste hoofstukke van Genesis. Voor ons ‘n karakterstudie doen, moet ons eers die verhaal lees van die een wat ons gaan studeer.

As jy jou Bybel naby jou het, lees gou Josef se storie in Genesis 37; 39-48 en 50. Of jy kan dit sommer op die Bybelgenootskap se webblad ook gaan lees.

MAAK ‘N OPSOMMING VAN SY VERHAAL.

Die tweede stap van ‘n karakterstudie is om ‘n opsomming van die karakter se verhaal te maak.

Josef was sy pa se gunsteling seun. Sy broers haat hom daaroor.

God laat hom profetiese drome droom oor hoe Hy hom voorentoe in sy lewe sou gebruik. Hy vertel die drome vir sy broers en hulle haat hom nog meer.

Omdat hulle hom haat, verkoop hulle hom aan Midianitiese handelaars wat op pad is Egipte toe. Daar word hy ‘n slaaf in Potifar, die hoof van farao se lyfwag, se huis.

Potifar se vrou lê by Josef aan en probeer hom sover kry om by haar te slaap. Toe hy weier, jok sy en beskuldig hom daarvan dat hý die een is wat haar probeer molesteer het. Hierdie aanklag laat Josef in die tronk beland.

In die tronk lê hy die skinker en die bakker se drome uit. Twee jaar later droom farao drome wat hom onstel. Josef lê hierdie drome ook uit. Daarna word hy as onderkoning van Egipte aangestel om die graan van die land bymekaar te maak en in reserwe te hou vir die tyd van hongersnood wat voorlê.

Gedurende die hongersnood kom koop sy broers graan in Egipte. Hulle buig voor hom neer, net wat die profetiese droom gesê het gaan gebeur. Josef vertel later vir hulle wie hy is en laat die hele familie na Egipte trek om by hom te wees.

Daar is nog heelwat ander dinge wat ‘n mens seker by dié opsomming kan byvoeg, maar om dit kort te hou, volstaan ons hierby.

WAARVOOR IS DIE KARAKTER BEKEND?

Die derde stap is om neer te skryf waarvoor die karakter bekend is. As jy aan Josef dink, waaraan dink jy?

Ek dink aan die volgende:

  • Hy het profetiese drome gedroom, wat later waar geword het presies soos God gesê het.
  • Hy het sterk gestaan en nie toegegee aan versoeking nie, al het dit veroorsaak dat hy in die tronk beland het.
  • God het hom gebruik om ander se drome uit te lê.
  • Hy was die onderkoning van Egipte en danksy hom, en hoe God deur hom gewerk het, is baie mense se lewens gespaar toe daar 7 jaar hongersnood in die land was.

As ek egter net een sin oor Josef moet skryf, sou ek sê: As ek hoor van Josef weet ek hy was die onderkoning van Egipte wat ‘n rol gespeel het in die redding van baie mense se lewens.

STERK EN SWAK PUNTE.

Die vierde stap is om te kyk watter sterk en swak punte ‘n mens van die karakter kan raaksien. Of, anders gestel, wat is sy goeie en slegte karaktereienskappe?

Josef se goeie eienskappe:

Hy was ‘n goeie bestuurder en ‘n harde werker.

Maak nie saak waar hy hom bevind het nie, as ‘n slaaf of in die tronk, hy was getrou in sy werk.

Hy het eerbied vir God en respek vir sy baas gehad.

Josef het versoeking weerstaan en uiteindelik daarvan weggevlug.

Hy was wys en kon goed beplan.

Hy was vergewensgesind en vergewe sy broers vir wat hulle aan hom gedoen het.

Josef se slegte eienskappe:

Hy was ‘n nuusaandraer en het slegte stories oor sy broers by sy pa aangedra.

Dalk was hy naïef om vir sy broers van sy drome te vertel. Maar ek wonder of hy nie so ‘n bietjie trots was daarop en dit daarom oorvertel het nie.

OORWINNINGS EN MISLUKKINGS.

Die vyfde stap in karakterstudie is om neer te skryf wat die karakter se oorwinnings en mislukkings was. Dit is nou dié dinge wat hy gedoen of nie gedoen het nie.

By Josef sien ek eintlik net oorwinnings.

  • Hy maak die beste van ‘n slegte situasie – as slaaf en in die tronk. Verder doen hy sy werk getrou en word telkens bevorder om aan die hoof van sake te staan.
  • Hy hou aan om versoeking te weerstaan. Ons weet nie hoe lank Potifar se vrou by hom aangelê het nie, maar die Bybel sê sy het dag vir dag by hom aangehou. Dit klink dus of dit nogal ‘n lang tyd kon gewees het. En Josef het haar bly weerstaan omdat hy eerbied vir God en respek vir haar man gehad het.
  • Hy gee nie op nie, maar bly God vertrou dat die drome wat Hy hom gegee het, waar sou word. En hy was nie verkeerd nie!

HEENWYSINGS NA JESUS.

Die sesde stap is om te kyk hoe die karakter heenwys na Jesus. Die Ou Testament is vol karakters, simbole en metafore wat op een of ander manier wys na Jesus en God se plan vir ons verlossing.

In Josef se lewe sien ons baie dinge wat ooreenstem met Jesus se lewe.

Josef se pa het hom liefgehad. Jesus was die Vader se geliefde Seun.

Josef se broers het hom verwerp. Jesus is ook verwerp deur nie net van Sy familielede nie, maar die res van Israel ook.

Josef beland tussen die heidene toe hy as slaaf verkoop word. Jesus word deur die skrifgeleerdes en familiehoofde van Israel verwerp, maar deur die heidene aanvaar.

Josef word vals beskuldig en in die tronk gegooi. Jesus word ook vals beskuldig tydens Sy verhoor. Dan betaal Hy die prys vir iets wat Hy nie gedoen het nie – die sonde van die wêreld.

Josef stap ‘n pad van lyding van hy deur sy broers verkoop is tot hy bevorder word tot onderkoning. Net so stap Jesus ook ‘n pad van lyding.

In beide Josef en Jesus se geval verander die pad van lyding na een van eer en heerlikheid wanneer hulle verhoog word.

Josef trou met ‘n heidense bruid. Jesus is die Bruidegom van die Bruid wat bestaan uit Jode en heidene.

Aan die einde van sy verhaal word Josef met sy familie versoen, en hierdie keer aanvaar hulle hom. Ons, wat vir Jesus aanvaar, word ook met Hom versoen.

En laastens sien ons hoe Josef baie mense se lewens red deur te sorg dat daar kos is tydens ‘n hongersnood. Jesus is die Verlosser van die wêreld. Almal wat in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.

LESSE OM TE LEER.

Die laaste stap van ‘n karakterstudie is om te kyk watter lesse ‘n mens kan leer uit die lewe van die karakter wat jy studeer.

Uit Josef se lewe kan ons leer dat God ‘n plan vir elke mens se lewe het. Die duiwel gaan egter probeer om daardie plan in die wiele te ry. Maar as ons God getrou bly volg en nie moed opgee wanneer dit lyk of die plan nie gaan realiseer nie, sal ons God se plan vir ons lewens vervul.

Die tweede les wat ons leer is dat God by elkeen is wat Hom getrou bly volg.

‘n Derde les is dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.

By Josef leer ons hoe belangrik dit is om versoeking te weerstaan. Ons leer dat ‘n mens geduldig moet wees en moet uithou selfs al lyk dit asof jou hele lewe rondom jou in duie stort. Dan leer ons ook hoe belangrik dit is om getrou te wees in ons werk, selfs al sien niemand raak wat ons doen nie. En laastens leer ons die belangrikheid van eerbied vir en getrouheid aan God.

Dink ‘n bietjie hoe jy elkeen van hierdie lesse in jou eie lewe kan toepas.

‘N SLEUTELVERS VIR JOSEF SE LEWE.

As ek ‘n sleutelvers vir Josef se lewe moes kies, sou ek Genesis 39:2a en 21 gekies het. Die twee verse sê basies dieselfde ding, maar in vers 21 word net ‘n bietjie meer bygevoeg.

In vers 2a staan: “Die Here was met Josef, en hy was ‘n suksesvolle man.”

En in vers 21 staan: “…maar die Here was met Josef en het in Sy troue liefde na hom uitgereik. Hy het aan hom guns geskenk in die oë van die hoof van die gevangenis.”

Niks wat Josef bereik het was as gevolg van homself nie. Hy was nie, soos die Engelse sê, ‘n ‘self made man’ nie. Alles wat hy bereik het was as gevolg van God. Maar, al het hy niks uit homself bereik nie, het hy tog ‘n aandeel gehad in sy sukses. Hy het God getrou bly volg selfs in moeilike omstandighede. En daarom kon hy elke probleem en hindernis oorkom, want deur God was hy meer as ‘n oorwinnaar.

Ek wil jou vandag aanmoedig om vir die res van die dag ‘n bietjie oor Josef en oor hierdie twee verse te dink.

Onthou dat God by jou is net soos Hy by Josef was. In Sy troue liefde reik Hy na jou toe uit en skenk jou ook guns in die oë van mense rondom jou. As jy Hom getrou volg, soos Josef gemaak het, sal jy ook sukses behaal en Sy plan vir jou lewe vervul!

Deel hierdie blad

5 comments

  1. Ek het so bietjie deurgelees,dis regtig baie goed om op die site te wees,ek sal graag my Bybelstudie wil hierdeur doen

  2. Gmore…So baie geleer uit die lewe van Joseph en ek Kan dit net toepas op my persoonlike lewe…baie dankie Vir die lering van God’s Woord dit is rerig Vir my net n Seun en met die hulp van Jesus 🙏 Gaan ek dit toepas…Die Here seen u🙏🙏🙏🙏

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *