MARKUS 9: GELOOF EN GEHOORSAAMHEID

Markus 9: Geloof en gehoorsaamheid

Ons is besig om deur die Evangelie van Markus te werk sodat ons kan sien wat ons daaruit kan leer. Vandag gaan ons kyk na Markus 9.

JESUS SE VERHEERLIKING.

In Markus 9:1-13 lees ons dat Jesus drie van Sy dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, saam met Hom geneem het na ‘n hoë berg.

Daar verander Sy voorkoms voor hulle oë. Sy klere word blink, witter as wat enige iemand dit ooit kon maak. Elia en Moses verskyn ook en praat met Jesus.

Die drie dissipels is só verskrik dat hulle nie weet wat om te doen nie. Petrus stel voor dat hulle drie hutte bou vir Jesus, Moses en Elia. Die Bybel sê hy het nie geweet wat hy sê nie. Dit klink amper of hy praat net om nie te wys hoe bang hy is nie! Ons lees op ander plekke in die Bybel ook dat mense verskrik en bang was wanneer hulle net ‘n kykie na God en Sy heerlikheid gekry het.

MY GELIEFDE SEUN, LUISTER NA HOM.

Hierdie is egter nie al wat gebeur nie. Daar kom ook ‘n wolk wat sy skadu oor hulle gooi. Uit die wolk kom ‘n stem wat sê, “Dit is My geliefde Seun. Luister na Hom.”

Klink hierdie woorde vir jou bekend?

Dit is baie dieselfde woorde as wat die Vader gesê het nadat Jesus gedoop is.

In Hebreërs 1:1-2a lees ons: “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”

Ons lees ook in Johannes 12:49 dat Jesus sê, “Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat.”

Dít is dan ook waarom die Vader sê dat ons na Jesus moet luister. Waar God voorheen deur die Wet en profete gerpaat het, praat Hy nou deur Sy Seun. Hy gee Hom die woorde wat Hy moet sê.

Dink ‘n bietjie oor die woorde van die Vader en dan oor jou eie lewe. Luister jy na Jesus? Bou jy jou lewe op Sy woorde, soos ons lees in Mattheus 7:24-25?

JESUS SE DOOD EN DIE VRAAG OOR ELIA.

Na die Vader se stem uit die wolk oor Jesus getuig, is alles skielik weer soos dit voorheen was.

Moses en Elia verdwyn en Jesus lyk weer soos altyd.

Dan gee Jesus die dissipels opdrag om nie te praat oor wat hulle gesien het tot Hy uit die dood opgestaan het nie.

Hierdie opdrag gee hulle stof tot nadenke. Hulle begin met mekaar redeneer oor wat dit nou eintlik beteken om uit die dood op te staan.

Ons sien baie duidelik dat hulle nie regtig verstaan het waaroor Jesus gepraat het nie.

Volgende begin hulle Jesus uitvra oor Elia, wat eers moes kom.

Ons sien die profesie in Maleagi 4:5-6: “Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.”

Jesus antwoord hulle dat Elia reeds gekom het.

In Mattheus 11:7-15 lees ons wat Jesus alles oor Johannes die Doper gesê het. Hy haal onder andere die gedeelte uit Maleagi 4 aan en sê dan dat Johannes Elia was, wat sou kom.

JESUS MAAK ‘N SEUN GESOND.

In Markus 9:14-29 lees ons hoe Jesus ‘n seun, wat van ‘n bose gees besete was, gesond gemaak het.

Ons sien dat seun se pa die dissipels gevra het om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie (Markus 9:17-18).

Ons lees ook dat Jesus die mense aanspreek oor hulle ongeloof, “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra?”

Jesus praat nog verder oor geloof wanneer die seun se pa sê, ” As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

Daarop antwoord Jesus, “‘As U iets kan doen,’ sê jy. Vir die een wat glo, kan alles.”

Hierdie is baie belangrike woorde wat ek en jy ter harte moet neem.

Ons geloof is in God en vir Hom is alles moontlik. Daarom is alle dinge ook moontlik vir die een wat glo!

Volgens Mattheus 17:14-21, waar hierdie selfde gebeurtenis beskryf word, hoef ons net geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie te hê, en niks sal vir ons onmoontlik wees nie.

Wanneer ons bid, moet ons in geloof bid. Ons sien dit ook in Mattheus 21:22: “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

Dit beteken gebed sonder geloof beteken niks. Die een kan nie sonder die ander nie. Gebed het geloof nodig sodat ons kan ontvang. En geloof het gebed nodig, want dit is een van die maniere waarop ons ons geloof vrystel.

Wanneer jy bid, glo jy dat God jou hoor en dat Hy jou sal antwoord?

JESUS PRAAT DIE TWEEDE KEER OOR SY DOOD EN OPSTANDING.

In Markus 9:30-32 lees ons dat Jesus en die dissipels deur Galilea gereis het.

Tydens die reis praat Jesus weer met die dissipels oor Sy dood en opstanding.

Hulle verstaan nie, maar is te bang om Hom daaroor uit te vra.

Ons is almal met tye soos die dissipels. ‘n Mens lees iets in die Woord, maar jy verstaan nie.

Wanneer dít gebeur, moet ons nie soos die dissipels wees nie.

Ons het die Heilige Gees in ons, wat ons sal help om te verstaan as ons Hom vra.

Moet dus nie bang wees om te vra as jy nie verstaan nie!

WIE IS DIE BELANGRIKSTE?

Volgende lees ons dat die dissipels met mekaar geloop en stry het oor wie van hulle nou eintlik die belangrikste is.

Jesus weet waaroor hulle gepraat het, selfs al antwoord hulle Hom nie as Hy daaroor uitvra nie.

En dan leer Hy hulle wat ‘n mens moet doen as jy eerste wil wees.

Ek twyfel of Sy woorde was wat hulle verwag het.

Want sien, Hy leer hulle nie dat dit die suksesvolle een is wat eerste is nie.

Hy leer hulle ook nie dat die een met die meeste mag eerste is nie.

Nee, Hy leer hulle dat jy ‘n dienaar moet wees. Jy moet jouself heeltemal op die agtergrond skuif, en ander bo jou stel. Jy moet aandag gee aan hoe jy húlle lewens beter kan maak in plaas daarvan om te verwag dat hulle joune beter maak.

NIE TEEN NIE MAAR VIR.

Na Jesus hulle geleer het, het Johannes ‘n vraag (Markus 9:38).

Hulle het iemand gesien wat duiwels in Jesus se naam uitdryf, maar wat hulle nie volg nie.

Jesus antwoord egter dat hulle hom nie moet keer nie, want niemand kan ‘n wonderwerk in Sy Naam doen en dan minagtend van Hom praat nie.

“Wie nie téén ons is nie, is vír ons,” sê Jesus.

Hy voeg ook by dat elkeen wat op een of ander manier vir ‘n gelowige sorg, sy beloning daarvoor sal kry.

Hiermee sê Jesus nie dat ons moet goed wees vir ons boeties en sussies in Christus sodat ons daarvoor beloon kan word nie. Nee, ons motief is liefde. Maar ons het ook die versekering dat wat ons doen nie ongesiens by God verbygaan nie.

AFVALLIGHEID.

In die laaste verse van Markus 9, lees ons oor dinge wat jou van Jesus afvallig laat word.

Eerstens waarsku Jesus ons daarteen om die oorsaak te wees dat ‘n ander, veral ‘n kind, sy geloof in Hom verloor. Iemand wat dít doen, gaan ernstige gevolge dra.

Dan sê Jesus op meer as een manier dat dit belangriker is om Sy Koninkryk in te gaan, as om fisiese begeertes na te jaag. Enige iets wat kan veroorsaak dat ons ons geloof in Hom versaak en van Hom afvallig word, moet sonder versuim eenkant toe geskuif word!

SOUT EN VREDE.

Markus 9 eindig met Jesus se woorde oor sout en vrede.

Ons, as Sy kinders, is veronderstel om sout te wees.

Sout gee geur aan kos. Dit verhoed dat kos bederf en, as ‘n mens te veel daarvan inkry, maak dit jou dors.

Net so moet ons wees.

Ons moet geur gee aan die lewe deur ons liefde vir en gehoorsaamheid aan Jesus.

Verder moet ons oor Hom getuig, sodat ander ook gered kan word.

En ons moet ons lewens só leef, dat ander Sy karaktertrekke in ons kan sien, en ‘n dors na Hom ontwikkel wat net Hy kan stil.

Jesus sluit af deur te sê ons moet in vrede met mekaar leef.

OPSOMMING VAN WAT ONS GELEER HET.

Uit Markus 9 het ons die volgende geleer:

  • Die Vader het voorheen deur die profete gepraat, maar nou praat Hy deur Jesus. Ons moet fyn luister wat Hy sê en ons lewens op Sy woorde bou.
  • Ons geloof is in God, vir wie alles moontlik is, daarom is alles ook moontlik vir ons wanneer ons glo.
  • Geloof en gebed gaan hand aan hand.
  • As jy nie verstaan wat jy in die Bybel lees nie, vra die Heilige Gees om jou te help om te verstaan.
  • Wees ‘n dienaar. Maak gebruik van elke geleentheid om iemand anders se lewe beter te maak.
  • Wees goed vir ander uit liefde, maar weet dat dit nie ongesiens by God verbygaan nie.
  • Dit is belangriker om die Koninkryk in te gaan as om fisiese dinge na te jaag. As iets vir jou belangriker raak as jou verhouding met God, dan moet jy dit dalk vir ‘n tyd lank eenkant toe skuif – en dalk selfs vir altyd!
  • Wees soos sout en leef in vrede met alle mense.
Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *