MARKUS 7: REINHEID EN ONREINHEID

Markus 7: reinheid en onreinheid

Ons is die afgelope tyd besig om na die Evangelie van Markus te kyk. Vandag gaan ons kyk na Markus 7.

Sommer met die intrapslag vind ons die Fariseërs en skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom om Jesus te ondervra oor seker kwessies. Jy kan jou indink dat hulle glad nie gelukkig was met Sy sukses en gewildheid nie.

Wanneer hulle by Hom kom, vind hulle iets wat hulle tot in hul diepste wese skok. Sy volgelinge is sowaar besig om met vuil hande te eet!

Dít is baie ongehoord, want hulle onderhou nie die tradisie nie.

Volgens die oorgelewerde gebruike, moes hulle eers hulle hande behoorlik was.

Daar was ook allerhande ander gebruike wat hulle nagekom het om seker te maak dinge is skoon voor hulle dit gebruik.

DIE OORGELEWERDE GEBRUIKE.

Onmiddellik word Jesus hieroor ondervra.

Ek weet nie wat hulle gedink het Jesus gaan sê nie, maar ek is seker daarvan Sy antwoord was nie wat hulle verwag het nie.

Jesus begin met hulle praat oor hulle oorgelewerde gebruike. Hy wys hulle daarop dat hulle mensgemaakte reëls volg in plaas van om aan God gehoorsaam te wees.

Hy sê vir hulle dat mensgemaakte reëls en voorskrifte niks beteken nie. Hulle kan vir God probeer sê hoe lief hulle Hom het deur dit te onderhou nie.

Dit is uiterlike vertoon as dit nie uit ‘n opregte hart kom nie.

‘n Mens mag dink dat net die skrifgeleerdes en Fariseërs hiermee ‘n probleem gehad het, maar ons kan steeds vandag daarmee sukkel.

Daar is steeds godsdienstige gebruike wat mense aanhang, wat nie van God af kom nie.

Hierdie gebruike neem die plek van God en Sy Woord in dan, soos ons in Markus 4 gesien het, bly die Woord onvrugbaar.

ONREINHEID UIT DIE HART.

Jesus gaan verder en praat met die menigte oor onreinheid.

Soos ons in Markus 7:3 gesien het, eet hulle nie as hulle eers hande gewas het nie. In vers 5 sien ons hulle glo dat hulle hande onrein is as dit nie gewas is nie.

Maar Jesus leer hulle dat dit nie is wat in die mens ingaan wat hom onrein maak nie. Dit is wat uit hom kom wat wys of hy rein of onrein is.

Woorde en dade spreek boekdele. Dit wys of jou hart rein of onrein is.

Jy sien, ‘n mens kan maar met vuil hande eet, solank die vuil hande ander in liefde dra. En ‘n mens kan skoongewaste hande wat steel – dit wys jou hart is onrein.

As ons hierdie verstaan, sal ons nie maklik toegee wanneer ons gekonfronteer word met ‘n wettiese manier van God dien nie. Ons sal weet daardie dinge is net uiterlike vertoon as dit nie uit ‘n hart kom wat deur Jesus nuutgemaak is nie.

DIE GELOOF VAN ‘N HEIDEN-VROU.

In Markus 7:24-30 lees ons van Jesus en die Siro-Fenisiese vrou.

Sy was nie ‘n Jood nie, maar het van Jesus gehoor. Haar dogtertjie was van ‘n onrein gees besete, en sy kom na Jesus toe om te vra dat Hy die gees uitdryf.

Maar Jesus sê ‘n vreemde ding vir haar. Hy sê dat die kinders eers moet klaar eet, want dis nie mooi om hulle kos te vat en vir die hondjies te gee nie.

Dan antwoord sy Hom dat die hondjies darem onder die tafel die kinders se oorskiet eet.

As ‘n mens die gedeelte lees, mag dit lyk asof Jesus sê God se redding is net vir die Jode.

Sou jy die Fariseërs en skrifgeleerdes vra of dit so is, sou hulle bevestigend geantwoord het.

Die vrou het egter verstaan dat Jesus vir almal gekom het.

Hoewel die Jode die eerstes was wat van Hom gehoor en met Hom te doen gehad het, het Hy ook tussen die heidene beweeg en hulle genees.

God se liefde, genade en vergifnis kan nie beperk word nie. Hy nooi almal om na Hom toe te kom vir redding en om in ‘n verhouding met Hom te staan.

GENESING VAN ‘N DOOFSTOM MAN.

In die laaste gedeelte van Markus 7 lees ons dat Jesus deur Sidon na die See van Galilea in die gebied van Dekapolis gegaan het. Dit was hoofsaaklik ‘n gebied waar heidene gewoon het.

(Onthou jy dat Jesus hier in Markus 5 die man met die klomp bose geeste genees het?)

In hierdie gedeelte lees ons dat Hy ‘n doofstom man genees het. Dis sommer twee kwale op een slag!

Jesus belet die mense om daaroor te praat, maar hulle vertel dit oral waar hulle kom.

Hulle is geweldig aangegryp en sê, “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat” (Markus 7:37).

Jesus laat die dowes hoor, die stommes praat en die blindes sien.

Hierdie is beide geestelik en liggaamlik.

Jesus maak blindes, wat nie die sonde in hulle lewens raaksien en nie weet hulle het ‘n Verlosser nodig nie, se oë oop. Nou kan hulle sien en in Hom glo.

Hy maak ook die dowes se ore oop. Dié wat voorheen nie God se stem kon hoor nie, omdat daar skeiding was tussen hulle en God, kan nou hoor, want hulle is Sy kinders.

En Hy laat die stommes praat, want niemand wat regtig ‘n ontmoeting met Hom gehad het, kan ooit oor Hom stilbly nie!

WAT ONS LEER.

In afsluiting wil ek net weer die volgende onder jou aandag bring:

  • Gehoorsaamheid aan God se Woord is wat belangrik is, nie die onderhouding van mensgemaakte godsdienstige reëls nie.
  • Dit is nie wat in die mens ingaan wat hom onrein maak nie, maar die dinge wat uit sy hart kom.
  • Jesus het gekom vir almal. God se genade en liefde kan nie beperk word nie – dis vir alle mense.
  • Jesus laat mense sien, hoor en praat. Dit gebeur op geestelike sowel as liggaamlike vlak.
Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *