MARKUS 6: GOEIE LESSE OM TE LEER

Markus 6 leer ons sommer ‘n hele paar goeie lesse. As ons hierdie lesse in ons lewens toepas, gaan daar verseker ‘n verskil wees!

Markus 6: Goeie lesse om te leer

Ons is die afgelope paar weke besig om stadig maar seker deur die Markus-evangelie te werk. In elke hoofstuk is daar heelwat om te leer.

Vandag gaan ons na Markus 6 kyk om te sien wat se lesse ons daaruit kan leer.

LEES OOK: DIE EVANGELIE VOLGENS MARKUS – ‘n INLEIDING

DIE MENSE VAN NASARET VERWERP JESUS.

In die eerste 6 verse van Markus 6 lees ons van Jesus se ontvangs in die dorp waar Hy grootgeword het.

Ons lees hoe hulle Hom verwerp het, want hulle het Hom te goed geken.

Hulle het geweet Hy is Maria se Seun, dat Hy voorheen ‘n timmerman van beroep was en hulle het Sy broers en susters geken.

Hy leer hulle in die sinagoge en Sy woorde gryp hulle aan, maar tog bly hulle harte verhard en hulle volhard in hulle ongeloof.

In vers 4 lees ons Jesus het gesê: “‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”

‘n Gelowige kan maklik ook hierdie selfde ervaring hê.

‘n Persoon wat voorheen regtig ‘n slegte lewe gelei het, maar wat vir Jesus ontmoet het en deur Hom vernuwe en verander is, word nie altyd deur sy familie aanvaar nie. Dit kan veral probleme veroorsaak as die persoon deur God gebruik word om ander na Jesus te lei. Familie en vriende weet hoe jy was voor jy tot geloof gekom het, en hulle is nie altyd bereid om te aanvaar dat jy verander het nie.

DIE TWAALF WORD UITGESTUUR.

In Markus 6:7-13 lees ons hoe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het om te gaan preek.

Dit is interessant om te sien dat Jesus hulle beveel om niks vir die pad saam met vat nie. Hulle moes nie kos, ‘n reissak of geld saamvat nie.

Hulle moes, waar hulle ontvang word, in dieselfde huis bly tot hulle weer vertrek het.

Vir my is hierdie ‘n geloofsles.

Hierdie twaalf manne moes leer om die Here te vertrou om in hulle behoeftes te voorsien.

Later, na Jesus opgevaar het hemel toe, en hulle die Evangelie verder moes verkondig, kom hierdie les goed te pas. Ons lees dan ook in Lukas 22:35 dat Jesus hulle later vra of hulle enigsiens iets kortgekom het in hierdie tyd, en hulle antwoord nee, niks nie.

Dit is ook vir ons ‘n les.

God sorg vir Sy kinders. Hy voorsien wat ons nodig het wanneer Hy ons roep om iets vir Hom te doen. Ons kan dus in gehoorsaamheid Sy opdragte gaan uitvoer, ten volle oortuig daarvan dat Hy ons nie in die steek sal laat nie. Hy sal, op die regte tyd, alles gee wat ons nodig het.

‘N AANKLAG TEEN HULLE.

In vers 11 lees ons wat die dissipels moes doen as ‘n dorp hulle nie wou ontvang of na hulle luister nie.

Hulle moes van die plek af weggaan en selfs die stof van hulle voete afskud as aanklag teen hulle.

Jesus sou hulle nie hierdie opdrag gegee het, as daar nie ‘n moontlikheid was dit mense nie na hulle wou luister nie.

Ons sien in die eerste verse van Markus 6 hoe mense ook nie vir Jesus wou ontvang nie.

Ook hierdie is vir ons ‘n les.

Nie almal met wie ons oor Jesus praat, gaan wil luister nie.

Mense gaan ons verwerp, net soos hulle vir Jesus en die dissipels verwerp het.

Wanneer dít gebeur moet ons altyd in gedagte hou dat dit nie regtig vir óns is wat hulle verwerp nie, maar wel vir Jesus.

Ons moet aanhou intree vir mense wat Jesus verwerp, en die Heilige Gees vra om in hulle harte te werk.

WAT MENSE Sê OOR JESUS.

Markus 6:14-16 gee vir ons ‘n kykie na die verskillende mense se opinies oor Jesus.

Sommige het gedink Hy is Johannes die Doper, wat uit die dood opgewek is.

Ander het gedink Hy is Elia, en nog ander dat Hy ‘n profeet is, soos die profete van ouds.

Herodes het ook van Jesus gehoor. Sy opinie was ook dat Johannes uit die dood opgestaan het.

HERODES EN HERODIAS.

Net na ons Herodes se opinie oor Jesus lees, word daar vir ons vertel waarom Herodes dink dis Johannes wat uit die dood opgestaan het.

Markus 6:17-29 vertel vir ons die hele verhaal van hoe Johannes tot sy einde gekom het.

In vers 17 lees ons dat Herodes vir Johannes laat toesluit het. Hy het dit gedoen omdat Herodias, sy broer se vrou, daarop aangedring het. Dan lees ons ‘n interessante feit – Herodes het met haar getrou en Johannes het hom daaroor aangespreek.

Dit het veroorsaak dat sy niks van hom gehou het nie en van hom wou ontslae raak.

Herodes was egter bang vir Johannes en het hom beskerm.

Op sy verjaardag het Herodes vir al sy hoofamptenare en opperbevelhebbers ‘n partytjie hou.

Herodias se dogter het vir hulle gedans en Herodes só beïndruk dat hy belowe om haar enige iets te gee wat sy vra.

Die meisiekind is reguit na haar ma toe om te gaan raad vra. Wat moes sy vra?

Herodias het haar kans waargeneem en gesê sy moet die kop van Johannes vra.

Hoewel dit vir Herodes ontstel het, het hy gehoor gegee omdat hy voor sy gaste ‘n belofte afgelê het.

‘N LES BY HERODES.

Een van die groot lesse wat ons uit hierdie verhaal van Herodes kan leer, is dat ‘n mens mooi moet dink voor jy ‘n belofte maak.

Jy moet veral goed nadink voor jy iets belowe om ander te beïndruk.

Herodes het onnadenkend ‘n belofte afgelê wat iemand se lewe gekos het.

Jou beloftes gaan dalk nie iemand anders se lewe kos nie, maar dit kan jou steeds baie moeilikheid op die hals haal.

Dink dus voor jy iets belowe.

Maak seker jy is regtig bereid om te doen wat jy beloof het. Maak ook seker jy is bereid om met die gevolge – indien daar is – saam te leef.

DIE TWAALF KOM LEWER VERSLAG.

In die volgende gedeelte van Markus 6 lees ons dat die dissipels teruggekom het na Jesus toe.

Ek dink hulle was baie opgewonde oor hulle reis en wat hulle alles gedoen het.

In vers 30 lees ons dan ook dat hulle verslag lewer van hulle doene en late.

Hulle vertel ook vir Jesus wat hulle die mense geleer het.

Dan lees ons dat daar só baie mense was wat heeltyd gekom en gegaan het, dat Jesus en die dissipels nie eens kans gehad het om te eet nie.

Jesus besluit dus dat hulle bietjie moet wegkom.

Hulle klim in ‘n skuit en vertrek na ‘n stil plek om te rus.

‘N LES BY DIE DISSIPELS.

Uit hierdie gedeelte kan ons die volgende leer: ‘n mens word moeg!

Soms het jy ‘n wegbreekkans nodig.

Party mense verkies om heeltemal alleen te wees om weer tot verhaal te kom. Ander wil liewer tussen mense wees.

Dit maak egter nie saak wat jou voorkeur is nie, solank jy tyd neem om te rus.

En, al kan jy nie weggaan nie, moet jy steeds jou rus elke dag en week ‘n prioriteit maak.

JESUS GEE ‘N SKARE KOS.

Toe Jesus en die dissipels by hulle bestemming kom, is daar klaar ‘n klomp mense wat vir hulle wag.

Weg is die kans op rus en stilte!

En, tipies Jesus, is Hy meer bekommerd oor die mense as Sy eie gerief.

Hy kry hulle innig jammer, want hulle is soos skape sonder ‘n herder. Hy begin hulle toe baie uitvoerig leer.

Teen aand se kant kom vra die dissipels Hom om die mense weg te stuur. Kos is ‘n probleem, maar die mense kan in die omgewing kos gaan koop.

Jesus het egter ‘n ander oplossing.

Met vyf broodjies en twee vissies voed Hy 5000 mans plus nog vrouens en kinders.

Almal eet genoeg. Dan tel die dissipels nog 12 mandjies vol brokstukke op.

WAT ONS KAN LEER.

In hierdie gedeelte sien ek ‘n paar lesse raak, maar ek deel net drie.

JESUS – DIE BRON.

Jesus voed ‘n skare met vyf broodjies en twee vissies. Almal kry genoeg en daar bly nog oor ook.

Net soos Jesus in die skare se behoefte aan kos voorsien het, voorsien Hy ook in ons behoeftes.

Hy is die Bron van alles wat ons nodig het.

Hy kan elke behoefte wat ons het, bevredig.

Ons moet net na Hom toe kom, vra wat ons nodig het, en vertrou dat Hy gaan voorsien.

VOEDSEL VIR GEES EN LIGGAAM.

Die tweede ding wat my opval, is dat Jesus die mense geestelik en fisies voed.

Eers leer Hy hulle – geestelike voedsel. Dan voed Hy hulle liggame met brood en vis.

Net so wil Hy elke dag vir ons ook sorg.

Hy wil elke dag – nie net Sondae nie! – vir ons geestelike kos gee. Dít gebeur wanneer ons tyd met Hom spandeer in die Woord en gebed.

Dan wil Hy ook in ons fisiese behoeftes voorsien en vir ons genoeg kos gee om te eet.

MOENIE MORS NIE!

Die derde les wat ek sien, is dat Jesus nie mors nie.

Hy kon maar die brokstukke laat lê het. Die voëls sou dit wel op een of ander stadium opgepik het.

Maar dis nie wat Hy doen nie. Hy beveel die dissipels om die oorblyfsels op te tel.

Toe ek dié stuk lees, het ek dadelik gedink aan die kere wat ek kos weggooi.

‘n Mens doen dit nie altyd opsetlik nie. Soms gebeur dit net dat iets agter in die yskas beland. Dan sien jy dit eers weer wanneer dit nie meer eetbaar is nie.

Vir mý was die derde les dat ek ook nie moet mors nie.

Maak liewer te min kos as te veel. En, as jy dit nie nou kan opeet nie, vries dit sodat jy dit later kan gebruik. Of gee dit dadelik vir iemand in nood wat dit kan eet.

JESUS LOOP OP DIE SEE.

In Markus 6:45-52 lees ons van nog ‘n wonderwerk van Jesus.

Na Hy die mense gevoed het, stuur Hy die dissipels vooruit terwyl Hy die mense laat huistoe gaan.

Daarna kry Hy geleentheid om bietjie alleen te wees.

In vers 46 lees ons Hy het die berg opgegaan om te bid.

Tyd saam met Sy Vader het Hom versterk en voorberei vir die eise van die volgende dag. (Ek en jy het ook tyd met die Vader nodig om ons te versterk en voor te berei vir wat ons elke dag moet doen.)

Terwyl Jesus tyd met die Vader spandeer, is die dissipels besig om na die oorkant te roei.

Die wind is sterk en hulle sukkel.

Teen dagbreek het Jesus op die see na die dissipels toe geloop.

Hulle dink dis ‘n spook en skrik groot.

Maar Jesus praat met hulle en stel hulle gerus.

Dan klim Hy in die skuit en dadelik gaan lê die wind.

Dit verstom die dissipels, want hulle verstaan steeds nie wie Hy is nie.

JESUS GENEES MENSE IN GENNESARET.

Die laaste gedeelte van Markus 6 vertel vir ons van die mense in die landstreek van Gennesaret.

Hulle herken vir Jesus en begin dadelik almal wat siek is na Hom toe bring.

In vers 56 staan hulle het Hom gevra dat die siekes net aan die soom van Sy klere kon raak. Almal wat dít gedoen het, het gesond geword.

In die Engelse vertalings staan daar dat hulle aan die ‘fringe of His cloak’ wou raak.

Ons lees meer hieroor in Numeri 15:37-41.

In verse 39-40 staan daar: “Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk. Dit geld ook vir hulle nageslag. Hulle moet ‘n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk. As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees.”

Jesus was getrou aan God se Wet, en daarom kan ons met sekerheid weet dat hierdie klossies aan Sy klere was.

In Mattheus 9:20-22 lees ons ook dat die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aan die soom van Sy klere geraak het.

‘N GELOOFSLES UIT GENNESARET.

In die eerste ses verse van Markus 6 het ons gelees hoe die mense in Jesus se tuisdorp Hom verwerp het.

Hulle het hardnekkig geweier om te glo en daarom kon Hy “geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ‘n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het” (vs.5).

Dan kom ons by die laaste 4 verse van die hoofstuk en sien net mooi die teenoorgestelde.

Die mense in die landstreek van Gennesaret glo.

Hulle glo dat hulle net aan die soom van Jesus se klere moes raak om genesing te ontvang.

En wat hulle glo, gebeur.

My gebed is dat ek en jy sal wees soos hiérdie mense.

Mag ons glo dat Jesus is wie Hy sê Hy is en dat Hy kan, en sal, doen wat Hy belowe.

Mag ons al ons vertrou in Hom plaas en nie vir een oomblik twyfel nie.

En mag Hy ons help om elke les wat ons uit Markus 6 geleer het, in ons lewens toe te pas!

LESSE UIT MARKUS 6.

In opsomming, net weer die lesse wat ons uit hierdie hoofstuk kan leer:

  • ‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.
  • God voorsien wat ons nodig het wanneer Hy ons roep om iets vir Hom te doen.
  • Nie almal met wie ons oor Jesus praat, gaan wil luister nie. Maar ons moet vir hulle bly bid en God vertrou om in hulle te werk.
  • Dink voor jy ‘n belofte maak, veral as jy mense daardeur wil beïndruk!
  • Jy het tyd nodig om te rus. Maak jou rustyd ‘n prioriteit elke dag en week.
  • Jesus bevredig elke behoefte. Hy voorsien daagliks ons geestelike en fisiese voedsel.
  • Jesus het nie met kos gemors nie. Ons moet Sy voorbeeld volg.
  • Soos Jesus, moet ons ook tyd met die Vader spandeer in gebed en die Woord.
  • Wees soos die mense van Gennesaret – glo!
Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *