MARKUS 4: GELYKENISSE VAN JESUS

In Markus 4 lees ons dat Jesus mense deur gelykenisse geleer het. Elke gelykenis leer ons ‘n geestelike waarheid of morele les.

Ons was die afgelope maand besig om deur die Evangelie van Markus te werk.

Tot dusver het ons die eerste drie hoofstukke bespreek.

MARKUS 1 – DIE BEGIN.

In die eerste vers van Markus 1 val die skrywer sommer dadelik met die deur in die huis en vertel vir ons waaroor sy boek gaan – dit is die Evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.

Dan vertel hy vir ons ‘n paar dinge aangaande Johannes die Doper en sy bediening.

Volgende skuif sy fokus na Jesus – Sy doop en die begin van Sy bediening.

In die eerste hoofstuk leer ons dat Jesus gesag het oor siekte, bose geeste en sonde.

MARKUS 2 – JESUS EN DIE GODSDIENSTIGE LEIERS.

In hoofstuk twee lees ons van ‘n verlamde man wat genees is. Ons lees van die roeping van Levi, en ook hoe die godsdienstige leiers Jesus aanhoudend bevraagteken.

In die verhaal van die genesing van die verlamde man sien ons Jesus het nie net gesag oor siekte nie, maar ook om sonde te vergewe. Jy kan jou indink dat die Fariseërs en skrifgeleerdes nie daarvan gehou het nie!

Wanneer hulle Jesus kritiseer omdat Hy saam met tollenaars en sondaars eet – en boonop nou een as dissipel het – antwoord Jesus dat Hy gekom het om sondaars te roep. Hy wys ook vir hulle dat Hy Here oor die sabbatdag is.

MARKUS 3 – ‘N WAARSKUWING.

In Markus 3 lees ons van nog ‘n man wat op die sabbatdag genees is. Ons sien ook dat die Fariseërs nou met die Herodiane saamspan om van Jesus ontslae te raak.

In hierdie hoofstuk lees ons ook van die aanstelling van die twaalf apostels. Hierdie manne moes by Jesus bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hy gee hulle ook mag om bose geeste uit te dryf.

Ons sien ook dat die godsdienstige leiers, en ook Jesus se eie familie, allerhande vreemde idees oor Hom gehad het.

Sy familie dink Hy het van Sy kop af geraak.

Die godsdienstige leiers dink weer hulle weet hoe Hy dit regkry om bose geeste uit te dryf. Hulle dink dit is met die hulp van Beëlsebul.

Na hulle hierdie aantyging gemaak het, waarsku Jesus hulle dat lastering teen die Heilige Gees ‘n sonde is wat nooit vergewe word nie.

Met hulle laster-woorde ontken hulle dat Jesus die Seun van God is. Hulle ontken Hom ook as die Messias wat sou kom. En hulle sê dat die Heilige Gees ‘n onrein gees is.

Daar is gelowiges wat bang is hulle het teen die Heilige Gees gelaster.

Maar ‘n gelowige, wat Jesus in geloof aanvaar het as Verlosser en nou die tempel van die Heilige Gees is, het nie hierdie sonde gedoen nie.

As jy dus in Jesus glo – as jy glo Hy is die Seun van God wat gekom het om die sonde van die wêreld weg te neem – dan is jy vir altyd vergewe!

MARKUS 4 – JESUS LEER DEUR GELYKENISSE.

Nadat ons net gou weer stilgestaan het by die vorige drie hoofstukke, kom ons uiteindelik by Markus 4 uit.

In hierdie hoofstuk lees ons ‘n hele paar van die gelykenisse wat Jesus gebruik het om die mense te leer.

‘n Gelykenis is ‘n verhaal wat vir ons ‘n geestelike waarheid of morele les leer.

Hoewel dit lewensgetrou is, is dit nie noodwendig feitelik nie.

Maar elke gelykenis het ‘n hoofpunt of tema.

Jesus het die gelykenisse gebruik om die skare te leer. Later het Hy egter vir Sy dissipels die gelykenis verduidelik en uitgelê.

In verse 10-12 verduidelik Jesus dan ook waarom Hy die mense deur gelykenisse leer. Toe die twaalf apostels, en van die ander wat Hom gevolg het, Hom daaroor uitvra, antwoord Hy dat die insig in die geheim van die koninkryk van God aan hulle gegee is. Die wat egter buite die Koninkryk is, hoor alles deur gelykenisse sonder om dit te verstaan.

DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER.

In Markus 4:1-9 lees ons die gelykenis van die saaier. Dit is seker een van Jesus se bekendste gelykenisse.

Jesus vertel dat ‘n saaier uitgegaan het om saad te saai. Die saad het op verskillende tipes grond geval.

Van die saad het op die pad geval. Die voëls het gekom en dit opgepik.

Ander saad het op ‘n klipbank geval. Dit het gou opgekom, maar is deur die son verskroei.

Dan is daar die saad wat tussen die onkruid geval het en deur dit verstik is.

Laastens is daar die saad wat op goeie grond geval het, en dertigvoudig, sestig- en honderdvoudig oes gelewer het.

DIE UITLEG VAN DIE GELYKENIS.

In verse 14-20 verduidelik Jesus wat die gelykenis beteken.

Die saad verteenwoordig die Woord van God.

Elke mens wat die Woord hoor, hoor dit op ‘n spesifieke manier.

Sommige hoor dit, maar die duiwel kom dadelik en vat dit weg.

Ander hoor dit en ontvang dit met groot vreugde. Maar wanneer hulle ter wille van die Woord verdruk of vervolg word, gee hulle op. Hulle laat vaar hulle geloof in die Woord.

Let daarop dat Jesus sê hulle word verdruk ter wille van die Woord. Die duiwel weet as hy die Woord op een of ander manier by jou kan steel, gaan jy nie vrug dra nie. As hy nie die Woord kan steel die oomblik wat jy dit hoor nie, dan sal hy mense of omstandighede gebruik om jou te vervolg of verdruk. En as jy nie oortuig is van die waarheid van die Woord nie, gaan jy jou geloof daarin laat vaar.

Dan is daar ook ander wat die Woord hoor. Hulle laat egter toe dat bekommernis, die verleiding van rykdom en die begeertes na ander dinge die Woord verstik. En weereens dra die Woord nie vrug nie.

Dan is daar die laaste groep. Hulle is die mense wat die Woord hoor en dit aanvaar. Hulle glo dit met hulle hele hart, en daar is niks wat die Woord en hulle geloof daarin, kan steel nie. Dit is hiérdie mense wat vrug dra – dertigvoudig, sestig- en honderdvoudig.

OOR LAMPE EN GEHEIME.

In Markus 4:21-25 lees ons nog ‘n gelykenis.

Hierdie keer praat Jesus oor ‘n lamp, wat nie onder ‘n emmer gesit word nie. Dit kan nie lig gee as dit onder ‘n emmer is nie! Nee, ‘n lamp kom op ‘n staander, sodat dit die vertrek kan verlig.

Hy sê ook dat alles wat geheim gehou is, openbaar gemaak word en aan die lig kom.

Jesus was die hele tyd besig om die Koninkryk van God aan mense te openbaar. Die Koninkryk het naby gekom, en hulle moes dit weet.

Die ou dinge was besig om verby te gaan, en Jesus was besig om hulle te vertel van die nuwe dinge en dit vir hulle te wys.

WIE ORE HET EN KAN HOOR, MOET LUISTER.

Jesus waarsku die mense, en ons, om aandag te gee aan wat ons hoor. Ons moet luister en inneem.

Diegene wat buite die Koninkryk is, hoor alles in gelykenisse, maar verstaan niks.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes het alles wat hulle gehoor het, aan hulle eie standaard gemeet. En hulle het nie geglo wat Jesus gesê het nie.

Daar was egter ook ander, soos die dissipels, wat Jesus se woorde gemeet en geglo het. En omdat hulle geglo het, het hulle die Koninkryk ontvang.

Daar sal meer gegee word aan die een wat hoor en die waarhede van die Koninkryk glo.

NOG GELYKENISSE OOR SAAD.

In Markus 4:26-29 lees ons die gelykenis van ‘n man wat saad saai, maar nie weet hoe dit werk dat die saad opkom nie.

Dít is presies hoe dit werk met God se Koninkryk.

God is Self verantwoordelik vir die groei van Sy Koninkryk. Dit groei en groei, en lewer op die regte tyd ‘n oes.

Jesus vertel ook van die mosterdsaadjie.

Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit geplant word, word dit groter as al die tuinplante. Die voëls kan selfs in die takke nesmaak.

Met hierdie gelykenis sê Jesus dat die Koninkryk soos ‘n mosterdsaadjie is. Dit begin klein, maar word groter as alle ander dinge.

JESUS MAAK DIE STORM STIL.

In die laaste gedeelte van Markus 4, lees ons dat Jesus en Sy dissipels in ‘n skuitjie was, besig om na die oorkant te vaar.

Daar breek toe ‘n storm uit en die skuitjie begin vol water word.

Jesus het gelê en slaap, maar die dissipels was vreesbevange.

Hulle is vas oortuig daarvan dat hulle gaan vergaan, maar Jesus staan op en bestraf die wind en die golwe.

En skielik is alles doodstil en kalm.

Dan vra Jesus ‘n belangrike vraag vir die dissipels: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

Jesus kan net sowel hierdie vraag vir baie van ons vra. Ons is ook baie keer oortuig daarvan dat ons gaan vergaan. Maar, as ons ons oë op Jesus hou en Hom vertrou, sal ons bo die storms van die lewe uitstyg en oorwinning behaal.

JESUS SE GESAG.

Sover het ons gesien Jesus het gesag oor siekte, bose geeste en sonde.

Hy het ook gesag oor die natuur.

Wanneer Hy ‘n woord spreek, word daar gehoor gegee.

Dit is dan ook tot elkeen van ons se beswil om gehoor te gee wanneer Jesus met ons praat.

Ons moet nie net hoor nie, maar glo ook.

Dan moet ons natuurlik ook gehoorsaam en doen wat Hy vir ons sê.

Wanneer ons hoor, glo en gehoorsaam, sal ons vrug dra – dertigvoudig, sestig- en honderdvoudig!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *