MARKUS 2: DIE OUE IS VERBY!

In Markus 2 sien ons hoe Jesus gekom het om alles nuut te maak. Ons sien ook hoe die godsdienstige leiers in opstand kom teen die nuwe dinge.

Verlede week het ons stilgestaan by Markus 1.

Daar het ons gesien hoe Jesus Sy bediening hier op aarde begin het.

Ons het Sy gesag oor die duiwel en oor siektes en kwale gesien.

Ons het ook gesien dat Hy met gesag preek oor God se krag en dat die wonderwerke wat Hy gedoen het, mense die krag van God se koninkryk laat sien het.

Vandag gaan ons kyk na Markus 2.

In hierdie hoofstuk maak Jesus weer iemand gesond. Hy roep ook nog ‘n dissipel en meer as een keer is daar konflik tussen Hom en die godsdienstige leiers.

Maar die belangrikste van alles – ons sien hoe Jesus alles nuut kom maak het.

Markus 2: Die oue is verby!

JESUS GENEES ‘N VERLAMDE MAN.

In Markus 2:1-12 lees ons hoe Jesus ‘n verlamde man gesond gemaak het.

Sy vriende bring hom na Jesus, maar omdat daar te veel mense was, kon hulle hom nie by Jesus kry nie.

Dit het hulle egter nie gestuit nie en hulle bedink ‘n plan.

Hulle klim met die verlamde man op die dak, breek die dak oop, en laat hom voor Jesus afsak.

In Markus 2:5 staan, “Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, jou sondes word vergewe.'”

Geloof is iets wat gesien kan word.

Dit maak nie saak wat ‘n mens glo nie – goed of sleg – dit kan in jou woorde gehoor en jou optrede gesien word.

Jakobus waarsku ons dat geloof, wat nie tot dade oorgaan nie, dood is (Jakobus 2:17).

Uit hierdie gedeelte moet ons dus leer dat dit belangrik is dat dit wat ons sê ons oor God en Jesus glo, in ons dade gesien kan word.

Die mense wat die verlamde na Jesus toe gebring het, het geglo Hy kan hom gesond maak. Daarom skroom hulle nie om tot dade oor te gaan en die dak oop te breek sodat hulle vriend by Jesus kan uitkom nie.

VERGIFNIS VAN SONDE.

Iets wat my opgeval het toe ek deur hierdie hoofstuk gewerk het, is dat Jesus nie dadelik vir die man sê om sy draagbaar te vat en te loop nie.

Nee, Hy begin by iets heel anders.

Sy eerste woorde aan die man is, “Vriend, jou sondes word vergewe.”

Daaroor is die skrifgeleerdes natuurlik baie ontsteld, want wie anders as God alleen kan sonde vergewe!

En dan sê Jesus vir hulle dat dit vir Hom ewe maklik is om sonde te vergewe as om te genees.

Dit lyk dus asof daar ‘n verband is tussen die vergifnis van sonde en genesing.

JAKOBUS SKRYF OOK HIEROOR.

Ons lees hierdie selfde idee in Jakobus 5:14-16: “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”

Daarmee probeer ek nie sê dat alle mense wat siek is een of ander sonde het wat bely moet word voordat hulle genees word nie.

Nee, my punt is net dat die Woord duidelik wys daar is ‘n verband tussen die twee. Ons moet onthou dat daar nie so iets soos siekte in die Tuin van Eden was nie. Siekte het gekom na die sondeval. En, omdat ons in ‘n sondige en gevalle wêreld leef, gaan mense siek word.

Maar ons moet onthou dat Jesus volmag het om beide sonde te vergewe en siekte te genees.

Niks is vir Hom onmoontlik nie.

Soos die verlamde man, kan ons na Hom toe kom vir vergifnis en genesing.

DIE ROEPING VAN LEVI, DIE TOLLENAAR.

Die volgende gedeelte van Markus 2 handel oor die roeping van Levi.

Hy was ‘n tollenaar en nie baie gewild onder sy mense nie.

Hoe weet ek?

Want hy het belasting ingesamel vir die Romeine. Alle tollenaars is as verraaiers beskou. Hulle was ook bekend daarvoor dat hulle oneerlik was. Hulle het nie net die belastinggeld ingesamel nie, maar ook seker gemaak hulle eie sakke word vol.

En dit is toe juis ‘n tollenaar wat Jesus volgende kies as dissipel.

In van die ander Evangelies sien ons hy word ook Mattheus genoem. In hoofstuk 3 kies Jesus hom as een van die twaalf apostels. Hy skryf ook later een van die Evangelies.

Laai jou gratis Inkleurvers HIER af.

JESUS ROEP EN GEBRUIK ALMAL.

Hierdie gedeelte leer ons dat Jesus alle mense roep om Hom te volg.

Dit maak nie saak wie ons is en hoe ons verlede lyk nie. Dit maak nie eers saak waarmee ons nou besig is nie.

Soos Jesus in Markus 2:17 sê, “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Jesus roep sondaars – dit is almal van ons.

En, as ons, soos Levi, kies om gehoor te gee en Hom te volg, verander Hy ons lewens.

Hy verander ons van die binnekant af buitentoe. Hy begin by die hart en gee ons ‘n nuwe gees wat net soos Syne is.

Dan werk Hy deur die Heilige Gees vir die res van ons lewens met ons om ons ook aan die buitekant na Sy beeld te verander.

Hoe langer ons die pad met Hom stap, hoe meer lyk ons soos Hy. Ons dink soos Hy dink, praat Sy woorde en doen wat Hy doen.

Dit maak dus nie saak wie jy is en waarmee jy besig is nie, Jesus roep jou en Hy wil jou gebruik tot Sy eer.

VRAAG OOR VAS.

In die volgende gedeelte van Markus 2, lees ons dat die Fariseërs en die volgelinge van Johannes besig was om te vas.

Volgens die Wet van Moses was daar net een keer per jaar wat almal moes vas. Dit was op die Dag van Versoening, of Versoeningsdag (Levitikus 16:29,31; 23:27-32; Numeri 29:7).

Na die ballingskap in Babilonië het die Jode egter nog vier keer ‘n jaar ‘n vastyd gehad. En, teen die tyd van Jesus, het die Fariseërs twee keer ‘n week gevas.

Hierdie vastye was dus nie iets wat God van hulle verwag het nie, maar iets wat hulle self begin doen het.

Dan wil die mense by Jesus weet waarom die ander vas, maar Sy dissipels nie.

Sy antwoord is eenvoudig.

Die Bruidegom, die Een wat sou kom, is hier. Nou is dit tyd om fees te vier.

Vas is gewoonlik met droefheid, hartseer en om te treur vereenselwig. Sien jy waarom God geëis het dat hulle op Versoeningsdag vas? Dit was ‘n teken dat hulle rou oor die sondes wat hulle gedoen het.

Maar ‘n troue was ‘n tyd van feesviering. Niemand sou dit eers oorweeg om gedurende die voltrekking van ‘n huwelik te vas nie!

UIT MET DIE OUE, DIE NUWE HET GEKOM.

Jesus maak dit ook duidelik dat Sy koms die begin van nuwe dinge is.

Sy dood en opstanding sluit die Ou Verbond af en begin die Nuwe Verbond.

Die hele manier hoe mense tot God genader het onder die Ou Verbond gaan nou verander.

Onder die Nuwe Verbond nader ons tot God deur geloof in Jesus, nie deur die wet te onderhou nie.

Ons word versoen met God deur geloof in Christus.

Vergifnis van sonde kom deur geloof in Jesus en is vir altyd. Daar hoef nie nou meer een keer ‘n jaar versoening gedoen te word nie. Jesus het dit een keer vir almal gedoen.

Onder die Ou Verbond het die mense aan die binnekant dieselfde gebly, al het hulle probeer om hulle woorde en aksies te verander. En juis omdat hulle nie binne verander het nie, het die verandering aan die buitekant nie lank gehou nie.

Maar onder die Nuwe Verbond, kry mense ‘n gees wat net soos Jesus s’n is. Ons word verander van die binnekant af buitentoe. Ons woorde en dade wat verander, is nou ‘n weerspieëling van wie ons aan die binnekant is.

JESUS IS HERE OOR DIE SABBAT.

In die laaste gedeelte van Markus 2 lees ons hoe die skrifgeleerdes gekla het omdat die dissipels are op die Sabbatdag uitgevryf het.

Jy sien, vir die Jode was die grootste bewys van jou toewyding aan God hoe toegewyd jy die Sabbatdag onderhou het.

Hulle sien dus hierdie handeling as ‘n bewys dat die dissipels nie aan God toegewy is nie. En, dan bestraf Jesus nie die dissipels nie, wat beteken Hy is ook nie aan God toegewy nie!

Maar weereens weerlê Jesus hulle aantygings.

Hy sê dat die Sabbatdag vir die mens gemaak is, nie andersom nie. Hy sê ook dat Hy Here is oor die Sabbatdag.

Volgens die Wet van Moses moes daar gerus word op die Sabbatdag. Dit is ‘n heenwysing na ons rus in Jesus se voltooide werk aan die kruis. Nou hoef ons nie meer die wet te onderhou om rein voor God te wees en in ‘n verhouding met Hom te staan nie. Nee, deur ons geloof in Jesus rus ons nou in wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Deur geloof in Hom is ons vir altyd deur God rein verklaar en kan ons met vrymoedigheid na Hom toe kom.

DIE SKRIFGELEERDES EN FARISEëRS.

In elkeen van die gedeeltes in Markus 2 kry ‘n mens ook ‘n blik op die houding van die Fariseërs en skrifgeleerdes.

In die eerste gedeelte kla hulle omdat Jesus die man se sondes vergewe.

Met die roeping van Levi, kla hulle oor Jesus saam met tollenaars en sondaars eet.

En in verse 23-28 kla hulle oor die dissipels kwansuis die wet oortree deur are op die Sabbatdag uit te vryf en te eet.

Maar elke keer het Jesus vir hulle ‘n antwoord om hulle aantygings te weerlê.

Wanneer Hy die lam man genees, bewys Hy onteenseglik dat Hy die gesag het om sondes te vergewe en om siektes te genees. Hy is God en daarom kan Hy hierdie dinge doen.

Op hulle klagte dat Hy saam met tollenaars en sondaars eet, antwoord Hy hulle dat Hy gekom het om sondaars te roep. Ongelukkig was hulle so vol van hulleself, dat hulle nooit besef het hulle is ook sondaars wat deur Hom geroep word nie.

En wanneer hulle kla oor die dissipels are uitvryf op die Sabbatdag, sê Hy dat Hy Here is oor die Sabbatdag.

Laai jou gratis Inkleurvers HIER af.

ALLES HET NUUT GEWORD.

In elkeen van hierdie gevalle kan ons sien hoe Jesus iets kom nuut maak het.

Daar is ‘n nuwe verlossingsboodskap van God wat bedoel is vir alle mense.

Die ou Joodse reiningingswette word vervang omdat die Bruidegom gekom het.

Hy het gesag oor die duiwel, sonde en siekte.

Die Ou Verbond word vervang met die Nuwe Verbond, waar alle dinge nuut is en alles werk deur geloof in Jesus alleen.

Maak vandag tyd om weer deur Markus 2 te lees. Kyk of jy die dinge waaroor ons gesels het kan raaksien. Kyk ook of daar ander dinge is wat jy raaksien en gesels met die Here daaroor.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Baie dankie Risa vir jou inspirerende Bybel studies en lees stukkies. ek leer baie daaruit. Dit inspireer my om God se woord elke dag te studeer en bring my nader aan Jesus. Hou so aan met die inspirerende werk, en my gebede is ook met julle.

    Hugo

    1. Hugo, ek is so bly dat dit iets vir jou beteken en dat jy daaruit leer! Dankie vir jou gebede, ek waardeer. Baie seën vir jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *