MARKUS 16: JESUS HET OPGESTAAN

Markus 16: Jesus het opgestaan

Ons was die afgelope 15 weke besig om deur die Evangelie volgens Markus te werk. Hierdie week is die laaste week wat ons daarmee besig gaan wees, en wel met Markus 16.

Markus 15 en 16 is twee van die belangrikste, indien nie dié belangrikste, hoofstukke in die Markus Evangelie.

God die Vader het Jesus met ‘n doel aarde toe gestuur, en in hierdie hoofstukke word daardie doel bereik.

In Markus 15 het ons gelees hoe Hy gekruisig is en gesterf het. Ons het ook gelees hoe Hy begrawe is.

Hiermee het Hy ‘n gedeelte van Sy doel vervul deur Sy lewe af te lê vir die sonde van die wêreld.

JESUS SE OPSTANDING.

In Markus 16 lees ons hoe Jesus nog ‘n deel van Sy doel vervul het.

Ons lees dat daar vroue was wat die Sondagoggend vroeg na Jesus se graf gegaan het.

Hulle het reukolie gekoop om die liggaam mee te balsem.

Op pad na die graf wonder hulle wie die groot klip voor die ingang vir hulle sou wegrol.

Jy kan jou indink dat hulle baie verbaas moes gewees het toe hulle by die graf kom en sien die klip is klaar weggerol!

Hulle gaan toe die graf binne en sien daar ‘n jongman met lang wit klere aan, wat daar sit.

Hulle skrik groot, maar hy stel hulle dadelik gerus en sê dat Jesus uit die dood opgewek is.

Die arme vroue is egter baie verskrik en hardloop dadelik weg.

DIE BELANGRIKHEID VAN JESUS SE OPSTANDING.

Jesus se opstanding is baie belangrik vir ons as gelowiges.

In 1 Korinthiërs 15:17-20 lees ons dat ons geloof waardeloos sou wees as Hy nie opgestaan het nie. Ons sou dan nog steeds vasgevang gewees het in ons sondes.

Ons sou ook nie gered kon word nie, want hoe kan ‘n dooie iemand red?

Maar nou is ons Redder nie dood nie.

Hy het gesterwe, ja, maar Hy het ook weer opgestaan.

En, omdat Hy opgestaan het, is ons geloof van die allergrootste waarde. Ons is nou nie meer onder die heerskappy van die duiwel, sonde en die dood nie.

Ons is nou geredde mense, wat ons hoop vestig op ons Here vir die lewe wat ons hier op aarde leef, maar ook vir die lewe wat ons saam met Hom in die ewigheid gaan leef.

DIE GETUIES WAT JESUS SIEN.

Die volgende verse van Markus 16, verse 9-20, kom nie in die gebruikte grondteks voor nie.

Dit word wel gevind in sommige ander manuskripte, en is mettertyd aanvaar as die gepaste afsluiting vir die Markus Evangelie.

Maar al kom dit nie in die gebruikte grondteks voor nie, is daar niks daarin wat ons nie ook in die ander Evangelies lees nie.

In hierdie gedeelte lees ons van al die mense aan wie Jesus verskyn het.

Heel eerste verskyn Hy aan Maria Magdalena. Sy gaan vertel vir die dissipels, maar hulle glo haar nie.

Daarna verskyn Jesus aan nog twee terwyl hulle op pad was na die platteland.

Uit Lukas se Evangelie weet ons hierdie twee was die manne na wie normaalweg as die Emmausgangers verwys word.

Ook hulle kom vertel die dissipels dat hulle Jesus gesien het, maar weereens is geloof maar min.

Later verskyn Jesus aan die elf dissipels (onthou, Judas Iskariot was mos nie meer een van hulle nie), en Hy verwyt hulle oor hulle ongeloof.

ONGELOOF EN ‘N HARDE HART.

In Markus 16:14 word ongeloof en hardheid van hart saam genoem.

Dit lyk dus of die twee hand aan hand gaan.

Ons lees ook daarvan in Hebreërs 3:12-19.

Hier word gepraat van die Israeliete in die woestyn.

Hulle het gesien hoe God hulle op wonderbaarlike wyse uit Egipte verlos het.

Hulle het ervaar hoe Hy vir hulle in die woestyn gesorg en hulle gelei het.

En tog het hulle elke keer, wanneer dinge bietjie moeilik begin raak het, teen Hom in opstand gekom.

In plaas daarvan om Hom in geloof te bly vertrou, begin hulle kla en murmureer en beskuldig Hom daarvan dat Hy hulle net laat trek het sodat Hy hulle in die woestyn kan doodmaak.

Hulle luister ook nie na Sy opdragte nie, maar maak soos hulle lus is en goeddink.

In Hebreërs 3:12 lees ons dan ook die waarskuwing dat ons nie soos hulle moet wees nie.

Ons moet versigtig wees om nie geloof in God te verloor wanneer dinge moeilik raak nie.

Onthou ook wat Jesus geleer het in die gelykenis van die saaier (Markus 4).

Die mense wat soos klipbanke is, se geloof hou nie lank nie.

Hulle gee gou op wanneer hulle ter wille van die Woord verdruk of vervolg word.

Die dissipels het gesien wat Jesus gedoen het. Hulle het geglo Hy is die Seun van God. Hulle het ook gehoor hoe Hy meer as een keer vir hulle gesê het Hy gaan sterf maar weer opstaan.

Maar toe dit gebeur, verloor hulle al hulle geloof en glo nie die getuies wat kom vertel hulle het Hom gesien nie.

HOE LYK JOU HART EN GELOOF?

Dink vandag so ‘n bietjie oor jou eie hart en geloof.

Bly jy God vertrou, selfs wanneer dinge moeilik raak?

Hou jy aan om te glo selfs al word jy uitgelag en gewaarsku dat dit wat jy glo, nooit gaan gebeur nie?

Het jy ‘n sagte hart, wat die Here kan vorm? Of laat jy toe dat jou hart al harder word omdat jy fokus op die dinge wat jy sien en hoor in plaas van op die waarheid van die Woord?

Vra die Here om jou te help om die ware toestand van jou hart en geloof raak te sien.

Vra Hom ook om jou te help om ‘n sagte hart te hê en te volhard in geloof, selfs wanneer dit moeilik is.

GAAN EN VERKONDIG.

Die laaste vers waarop ek vandag jou aandag wil vestig, is Markus 16:15.

Daar sê Jesus vir die dissipels dat hulle die hele wêreld moet ingaan en die Evangelie verkondig.

Hulle het die opdrag ernstig opgeneem en oral rondgegaan om mense van Jesus te vertel.

Jesus gee vandag ook vir ons hierdie opdrag.

Daar is steeds mense in die wêreld wat nog nooit van Hom gehoor het nie, en daarom moet ons, wat Hom ken, vir hulle van Hom vertel.

In Romeine 10:13-15 lees ons dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, gered sal word. Dit is ‘n belofte.

Maar dan word daar ‘n paar vrae gevra:

1. Hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?

2. Hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?

3. Hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?

4. Hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?

ONS IS ALMAL GESTUURDES.

Al God se kinders is daardie gestuurdes, wat in gehoorsaamheid moet gaan preek.

Ons moet die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan ons voete trek (Efesiërs 6:15), en van Jesus getuig oral waar ons gaan.

Een manier om te getuig, is om vir ander te vertel wat Jesus vir jou gedoen het.

As jy ‘n behoefte het waarin Hy voorsien het, vertel ander daarvan.

Het jy wysheid nodig gehad toe jy ‘n belangrike besluit moes neem, en Hy het jou gewys wat om te doen? Vertel ander daarvan.

Dalk het Hy jou kind, wat siek was, gesond gemaak. Vertel ander daarvan.

Of dalk het Hy vanoggend ‘n gedeelte in die Bybel vir jou oopgebreek, sodat jy nou presies verstaan wat daar staan. Vertel dan vir ander daarvan.

Jesus is daagliks besig om op een of ander manier goed te doen aan ons.

As ons net oor daardie dinge praat, gaan mense van Hom hoor. Dit gaan hulle dalk aanmoedig om vrae te vra, en ons die geleentheid gee om hulle nog meer van Hom te vertel.

Moenie langer wag nie.

Trek sommer vandag nog die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan jou voete.

Gaan en verkondig die Evangelie.

Ons het ‘n belofte van God dat dié wat tot geloof kom, gered sal word.

Kom ons werk saam met ons opgestane Here om mense te wen vir Hom en Sy Koninkryk!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *