JOHANNES 1:1-18 – DIE WOORD

Johannes 1:1-18 - Die Woord

In die eerste 18 verse van Johannes 1, lees ons ‘n klompie wonderlike waarhede oor Jesus.

Elkeen van hierdie waarhede is iets wat ons moet weet en glo.

Kom ons kyk dus wat ons alles uit Johannes 1:1-18 kan leer.

JESUS IN DIE BEGIN.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Johannes 1:1).

In die begin….

Klink dit vir jou ook bekend?

Ja, jy is reg, dit is presies hoe Genesis 1 ook begin.

In die begin, toe alles geskep is, was Jesus daar.

ALLES VIR JESUS.

“Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie” (Johannes 1:2-3).

Kolossense 1:16 brei ‘n bietjie uit op die verse hierbo: “…want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep.”

Deur Hom…

Tot Hom…

Alles bestaan as gevolg van Jesus. Deur Hom het alles tot stand gekom.

En alles is tot Hom geskep.

LIG EN LEWE.

“In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie…. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld” (Johannes 1:4-5;9).

Deur Jesus ontvang die mens lewe en lig.

Hy het Sy eie lewe gegee sodat ons lewend kan wees vir God: “Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons…” (Handelinge 17:28).

En as ons in die lig leef, soos Hy in die lig is, sal ons nie struikel nie en “is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde” (1 Johannes 1:7).

HOM NIE ERKEN EN AANVAAR NIE.

“Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie” (Johannes 1:10-11).

Hierdie twee verse is eintlik baie hartseer.

Die wêreld en die mense daarin is deur Jesus geskep, maar hulle het Hom nie erken nie.

Toe Hy op aarde was, is Hy gebore as deel van die Joodse volk. Hulle is deur God uitgekies om Hom aan die res van die mensdom bekend te maak. Maar ook hulle het Hom nie aanvaar nie.

KINDERS VAN GOD.

“Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo. Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore” (Johannes 1:12-13).

Gelukkig het God nie moed opgegee toe die Jode Jesus nie wou aanvaar as Verlosser en Here nie.

Hy het immers, nog voor Hy Jesus gestuur het, geweet dis hoe dinge sou gebeur.

Maar, omdat hulle nie wou glo nie, het die res van die mensdom die geleentheid om na Jesus toe te kom. Elkeen wat glo, Jood en nie-Jood, kan deur geloof in Jesus weer gebore word en só ‘n kind van God word.

VOL GENADE EN WAARHEID.

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, “Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.'” Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade” (Johannes 1:14-16).

Genade en waarheid.

Jesus is genade en Hy is waarheid.

As gevolg van Hom leef ons nie meer onder die Wet nie, maar onder genade.

Ons hoef nie meer te probeer om die Wet te onderhou om regverdig verklaar te word en in ‘n verhouding met God te staan nie. Nee, ons word regverdig verklaar op grond van ons geloof in Jesus as Verlosser.

Deur die Heilige Gees stel God ons ook nou in staat om Sy opdragte uit te voer: “Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God” (Filippense 2:13).

LEES OOK: VERSE OOR GOD SE GENADE

JESUS HET GOD BEKEND GEMAAK.

“Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak” (Johannes 1:18).

Jesus het gekom om God aan ons bekend te maak.

Toe Filippus die dag vir Jesus gevra het om vir hulle die Vader te wys, het Jesus geantwoord: “Ek is al so ‘n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?'” (Johannes 14:9).

Deur Jesus leer ons die Vader ken. Ons sien Sy karaktertrekke en ook wat Hy doen.

Deur geloof in Jesus word ons regverdig verklaar en kan ons in ‘n verhouding met die Vader staan.

Jesus het vir ons vrede met God gebring.

Al hierdie dinge, en soveel meer, is ons en het ons as gevolg van Jesus. Hy is die Woord, wat van die begin af was, wat mens geword het en Sy lewe gegee het, sodat ons kan leef!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *