
Hierdie naweek is dit Paasnaweek. Dan herdenk ons wat Jesus, die Lam van God, vir ons kom doen het.
Dwarsdeur die Bybel, van Genesis tot Openbaring, lees ons van Jesus. Ons weet net nie altyd ons lees van Hom nie!
Een van die kere waar ons van Jesus lees, maar dit dalk nie weet nie, is die verhaal waar Abraham vir Isak moes gaan offer.
Maar kom ons begin by die begin.
GOD SE BELOFTE.
Vir jare het Abram en Sarai probeer om ‘n kind te hê. Maar niks het ooit daarvan gekom nie.
En toe gee God vir Abram hierdie belofte: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak…” (Genesis 12:2a).
Dit moes seker vir die twee snaaks geklink het. Hoe op aarde het God beplan om van Abram ‘n groot nasie te maak as hulle nie eens een kind gehad het nie?
Later, toe Abram 99 jaar oud was, het God egter ‘n meer spesifieke belofte gegee.
Eers verander Hy Abram se naam na Abraham, en Sarai s’n na Sara.
Abraham beteken ‘vader van baie’ en Sara beteken ‘vorstin’.
En toe belowe Hy: “Ek sal haar [Sara] seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou ‘n seun gee… Sara, jou vrou gaan vir jou ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom” (Genesis 17:16a;19).
ISAK SE GEBOORTE.
Baie jare het al verby gegaan nadat God die eerste keer belowe het dat Abraham ‘n groot nasie gaan wees.
Dit het so lank geneem, dat Abraham en Sara naderhand so ‘n bietjie vir God probeer help het om Sy belofte te vervul. (Gaan lees wat die twee se plan was in Genesis 16:1-16).
Maar, toe Abraham 100 jaar oud en Sara in haar negentigs is, vervul God Sy belofte en Isak word gebore.
Die seun waarvoor hulle só lank gewag het, was uiteindelik ‘n bondeltjie in hulle arms.
GAAN OFFER JOU SEUN.
Op ‘n dag gee God egter vir Abraham ‘n vreemde opdrag.
Hy sê: “Neem jou seun Isak, jou enigste, wat jy liefhet; gaan dan na die gebied van Moria, en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek vir jou sal wys” (Genesis 22:2).
Sonder om ‘n oomblik te wyfel, gehoorsaam Abraham God se opdrag.
Hy saal die donkie op en neem die hout vir die offer. Saam met Isak en twee van sy dienaars, vertrek hulle na die plek waarvan God gepraat het.
By hulle eindbestemming aangekom, gaan Abraham en Isak alleen die berg op.
Teen hierdie tyd is Isak baie nuuskiering.
Daar is hout en kole vuur, maar daar is nie ‘n lam om te offer nie.
Naderhand kan hy sy nuuskierigheid nie bedwing nie en vra sy pa waar die lam vir die brandoffer dan is.
Abraham antwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun” (Genesis 22:8).
GOD VOORSIEN DIE OFFER.
Volgende lees ons: “Toe hulle aankom by die plek wat God vir hom gewys het, het Abraham daar ‘n altaar gebou en die hout reggepak. Hy het sy seun, Isak, vasgebind en hom op die altaar neergelê, bo-op die hout. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. Maar die Engel van die Here het na hom uit die hemel geroep en gesê: ‘Abraham, Abraham!’ Hy het geantwoord: ‘Hier is ek!’ ‘Moenie jou hand na die seun uitsteek nie,’ het Hy gesê, ‘en moenie enigiets aan hom doen nie! Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het. Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.'” (vs.9-12).
Toe Abraham opkyk, sien hy: Daar is ‘n enkele ram wat aan sy horings vasgevang is in ‘n bos! Abraham gaan toe en neem die ram. Hy het hom as ‘n brandoffer gebring in die plek van sy seun. Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die Here sal voorsien word” (vs.13-14).
God doen presies wat Abraham gesê het Hy gaan doen.
Hy voorsien die ram vir die brandoffer.
‘N BEELD VAN JESUS.
Hierdie is ‘n pragtige beeld van ons Here Jesus Christus.
Ek en jy was veronderstel om op die altaar te wees. Ons was veronderstel om te sterf vir die sondes wat ons gedoen het.
Maar God het geweet dit sou nutteloos gewees het.
As gevolg van die sonde in ons lewens, is ons nie sonder vlek of rimpel nie.
Om dit eenvoudig te stel, ons kan onsself nie red nie.
JESUS, DIE PERFEKTE OFFER.
Dus belowe God ‘n Verlosser.
Hy belowe om Sy eie offerlam te voorsien – Een wat sonder sonde is.
Jesus, die Lam van God, het gekom om die sonde van die wêreld weg te neem en ons te versoen met God (Johannes 1:29; 2 Korinthiërs 5:19).
En, op presies die regte tyd, vervul God Sy belofte.
Hy stuur Sy eniggebore Seun, die perfekte, sondelose Lam van God.
Wat Hy vir ons aan die kruis kom doen het, was die enigste offer wat vir God aanneemlik was.
Deur Sy kruisdood en opstanding, betaal Hy die prys om ons te red en met God te versoen.
PAASFEES.
Wanneer jy hierdie naweek Paasfees vier, onthou die verhaal van Abraham en Isak.
Herinner jouself daaraan dat Jesus, die Lam van God, deur God die Vader Self gegee is.
Hy is gegee as perfekte offer om jou sonde weg te neem en jou met God te versoen.
Onthou wat Hy vir jou gedoen het; dank Hom en loof Hom daarvoor.
