HOE OM DOENERS VAN DIE WOORD TE WEES

doener van die woord

Ek is seker jy het al Jakobus 1:22 gelees waar Jakobus ons waarsku dat ons doeners van die Woord moet wees en nie net hoorders nie. Ons moet dus nie net weet wat in die Bybel staan nie, maar dit ook in ons daaglikse lewe toepas.

En dis juis waar meeste van ons sukkel. Ons weet nie altyd hoe om die Bybel in ons lewens toe te pas nie, maar dit eintlik glad nie so moeilik nie.

Om dit wat jy in die Bybel lees in jou lewe toe te pas, beteken eenvoudig dat jy die waarhede wat jy uit die Bybel leer op een of ander manier gaan uitleef. En dit kan baie dinge beteken. Kom ons kyk na vier daarvan.

GLO WAT JY LEES.

    Om die Bybel in jou lewe toe te pas, kan beteken jy het voorheen iets nie geglo nie. Maar nou het jy die waarheid in die Bybel gesien en nou glo jy dit.

    Dink maar aan iemand wat nog nie gered is nie omdat hy nie in Jesus as die Seun van God glo nie. Dan kry hy ‘n Bybel in die hande en lees in die Evangelies van Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.

    En met die hulp van die Heilige Gees verander sy ongeloof in geloof en hy word ‘n kind van God.

    VERANDER WAT JY DOEN.

      Om die Bybel in jou lewe toe te pas kan ook beteken dat jy dit wat jy doen, verander.

      Jy het dalk nog altyd maklik ‘n leuen vertel. Dan lees jy dat God nooit vir mense jok nie en dat jy dit ook nie moet doen nie.

      As jy daardie waarheid in jou lewe wil toepas, dan hou jy op jok.

      VERANDER WAT JY Sê.

        ‘n Mens pas ook die Bybel toe wanneer jy verander wat jy sê.

        Jy het dalk nog altyd gesê jy’s ‘n bang mens is wat nie maklik nuwe dinge aanpak nie.

        Dan lees jy God sê vir Josua dat hy nie bang nie, maar dapper moet wees, want God is by hom. En jy weet dis wat God vir jou ook sê.

        Jy kan hierdie gedeelte dan in jou lewe toepas deur op te hou sê jy is bang en te sê jy is dapper en kan doen wat God jou beveel omdat Hy by jou is.

        VERANDER HOE JY DINK.

          Nog ‘n manier hoe ons die Bybel in ons lewens toepas, is om te verander hoe ons dink.

          In Romeine 12:2 lees ons dat dit een van die belangrikste dinge is wat ons moet doen, want as ons verander hoe ons dink, gaan dit verander hoe ons optree en wat ons sê.

          TOEPASSING IS PERSOONLIK.

          Onthou dat ons almal unieke mense met unieke omstandighede is, en daarom gaan ons nie almal dit wat ons uit die Bybel leer op dieselfde manier toepas nie.

          Wanneer jy dus Bybelstudie doen of die Bybel lees en jy leer iets, dink oor hoe jy dit persoonlik moet toepas.

          Dis ‘n goeie idee om neer te skryf hoe jy dit gaan doen, want dit gee jou kans om bietjie daaroor te dink.

          Moet ook nie vergeet om God te vra om jou te wys hoe jy dit wat jy geleer het moet toepas nie. Jou idee van hoe jy dit moet toepas verskil dalk van Syne, so vra Hom om jou te help.

          Die laaste ding wat jy moet onthou, is dat jy altyd op die Heilige Gees moet vertrou om jou te help om die waarhede van die Bybel in jou lewe toe te pas. Sonder Sy hulp, gaan jy dit in elk geval nie regkry nie.

          UITDAGING.

          So, vandag wil ek jou uitdaag om, wanneer jy tyd in die Woord spandeer, regtig te dink oor hoe jy dit wat jy leer, in jou lewe kan toepas. Want onthou, ons wil nie net hoorders wees nie, maar doeners van die Woord!

          Deel hierdie blad

          Leave a Reply

          Your email address will not be published. Required fields are marked *