DIE BEDIENING VAN DIE VERSOENING

Die bediening van die versoening

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.” (2 Korinthiërs 5:17-18)

God het die wêreld so liefgehad, dat Hy Sy enigste Seun gegee het om te sterf vir ons sonde. Hy het die prys betaal sodat ons sonde vergewe kan word. Sy dood en opstanding het versoening gebring tussen God en ons, sodat ons weer in eenheid met Hom kan leef.

Jy sien, God het ons te lief gehad om ons te los in die toestand waarin ons was.

Ons was sondaars wat ons sondige natuur gevolg het. En ons het alles gedoen wat in ons gedagtes opgekom en waartoe ons begeertes ons gelei het. Ons het gedoen waarvoor ons lus was en wat ons gedink het reg was.

Voorheen was ons van God geskei, ons was Sy vyande.

Ons het Hom nie geken nie en wou Hom nie ken nie.

Elke mens was soos ‘n marionet in die hande van die duiwel. Ons het alles gedoen wat hy ons voorgesê het, sonder dat ons dit eers besef het.

‘N NUWE BEGIN, ‘N NUWE LEWE.

God het ons egter nie gelos soos ons was nie.

In Christus het Hy vir ons nuwe lewe gegee.

Deur geloof in Hom is ons weergebore.

Die morele en geestelike toestand waarin ons was, is nou iets van die verlede.

Ons is nou God se maaksels (Efesiërs 2:10).

Elke mens wat in Jesus glo is ‘n nuwe skepping.

Ons is dood vir sonde maar lewend vir God (Romeine 6:11).

In Hom is ons voor God geregverdig (2 Korinthiërs 5:21).

Ons is een gees met God (1 Korinthiërs 6:17), wat beteken ons het al Sy karaktereienskappe in ons gees (dit is die deel van ons wat weergebore is).

In ons gees is ons presies net soos Jesus (1 Johannes 4:17).

Die oue is verby, die nuwe het gekom.

As kinders van God is ons veronderstel om gelei te word deur die Gees en deur die Gees te leef.

Ons is in Christus Jesus geskep om goeie werke, wat God voorberei het, te doen (Efesiërs 2:10).

En, omdat God al Sy karaktereienskappe in ons gees geplaas het, kan ons doen wat Hy doen net soos Hy dit doen.

Deur op te tree soos Hy optree, en te sê wat Hy sê, wys ons vir ander, wat nog nie aan Hom behoort nie, wie God is.

Ons wys hulle Sy liefde, vriendelikheid, goedheid, geduld, getrouheid, ensovoorts.

En, wanneer hulle deur ons optrede sien wie Hy is, mag hulle dalk ook by die punt kom waar hulle wil hê wat, of liewer Wie, ons het en glo in Jesus as Verlosser.

MAAK DISSIPELS.

Jesus het ons die opdrag gegee om dissipels te maak van al die nasies. Hulle moet gedoop word en geleer word om te lewe soos Hy gelewe het (Mattheus 28:19-20).

Dít is die bediening van die versoening.

Dit het begin met net ‘n paar mense.

Maar soos ons voortgaan om Jesus se opdrag uit te voer, word die oes al groter en groter.

Ons lewe in harmonie met God maak die mooiste musiek, wat ander na God toe trek en hulle ook in harmonie met Hom bring.

Kom ons lê ons daarop toe om saam met die Here hieraan te werk.

Lê die ou mens af en trek die nuwe mens as kleed aan.

Leef jou lewe op so ‘n manier dat ongelowiges God in en deur ons kan sien, sodat hulle na Hom toe aangetrek kan word om ook gered te word!

LEES OOK: MY IDENTITEIT IN CHRISTUS

GAAN ‘N BIETJIE DIEPER.

Gebruik jou geestelike joernaal, of sommer enige notaboekie, om die volgende te doen:

SKRYF: 2 Korinthiërs 5:17-18: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.”

ONTDEK: Wat leer jy uit Romeine 5:10 oor versoening met God?

OORDINK: Dink ‘n bietjie na oor hoe God jou in Christus met Hom versoen het. Soek nog skrifgedeeltes oor versoening met God en skryf neer wat jy leer.

GEBED: Skryf jou dankgebed vir wat God vir jou gedoen het in jou joernaal neer.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *