Description
Is jy nuut op jou pad saam met Jesus en nie seker hoe ‘n mens stiltetyd hou nie? Of stap jy al lank ‘n pad met Hom, maar die lewe se besigwees, verantwoordelikhede en alledaagse dinge het stadig maar seker jou tyd saam met Hom op die agtergrond geskuif? Of verlang jy eenvoudig daarna om Jesus beter te leer ken, meer tyd in Sy Woord deur te bring en jou verhouding met Hom te verdiep?
Wat ook al vandag die rede is, onthou, jy hoef nie alles te weet voordat jy begin nie. Jy hoef nie ‘n ingewikkelde roetine te hê of ure van jou dag opsy te sit nie. Jy kan eenvoudig begin waar jy is, met die tyd wat jy het, en leer om stap vir stap nader aan Jesus te leef.
Dit is waarom ek die Nader Aan Jesus Versameling saamgestel het.
Drie eenvoudige, praktiese gidse wat jou wil help om tyd saam met Jesus deel van jou daaglikse lewe te maak.
Drie gidse. Een Doel: Om Nader Aan Jesus Te Leef
Om tyd saam met Jesus te spandeer behels meer as om net ‘n paar Bybelverse te lees of ‘n gebedjie op te sê. Dit gaan daaroor om Hom beter te leer ken, na Hom in Sy Woord te luister, jou hart met Hom te deel en te leer hoe om Hom te volg.
Maar waar begin ‘n mens? En hoe doen jy dit prakties?
Die Nader Aan Jesus Versameling bring drie gidse bymekaar wat jou met verskillende aspekte van jou tyd saam met Jesus help.
1. Kom Sit By Jesus – ‘n Gids Om Jou Tyd Saam Met Jesus Te Begin
Wil jy graag gereeld tyd saam met Jesus deurbring, maar weet jy nie mooi waar om te begin of wat om gedurende jou stiltetyd te doen nie?
Hierdie gids is ‘n goeie plek om te begin.
Dis geskryf om jou te help om jou tyd saam met Jesus aan te pak en ‘n eenvoudige beginpunt te hê. Gebruik dit as ‘n hulpmiddel om doelbewus tyd opsy te sit om by Hom stil te word en jou verhouding met Hom te koester.
2. In Gesprek Met Jesus – n Eenvoudige Gids Om Met Jesus Te Praat En Na Hom Te Luister
Gebed is deel van ons verhouding met Jesus. Dit is waar ons ons harte met Hom kan deel, vir ander kan bid, Hom kan dank en tyd kan maak om stil te word voor Hom.
Maar soms weet ons nie mooi wat om te bid nie. Ander kere voel dit asof ons woorde teen die dak vasslaan. En dan is daar die vraag: Hoe maak ek tyd om nie net met die Here te praat nie, maar ook stil te word en na Hom te luister?
Dit is waar die LUISTER-gebedsmetode jou kan help.
In hierdie gids leer ek jou ‘n eenvoudige, praktiese gebedsmetode om jou gebedstyd met vrymoedigheid aan te pak. Die LUISTER-metode gee jou ‘n riglyn om jou gebedstyd te gebruik om die Here te loof, vir ander in te tree, jou hart met Hom te deel en ook stil te word om na Hom te luister.
Jy hoef nie elke keer te wonder waar om te begin of wat om te bid nie. Die metode help jou om meer doelgerig in jou jou gebedstyd te wees, sonder dat gebed ‘n vaste formule of nog ‘n taak op jou doenlysie word.
Die doel is om jou te help om met Jesus in gesprek te tree, jou hart met Hom te deel en ruimte te maak om na Hom te luister.
3. Jesus, Die Bybel, En Jy – VOLG Jesus Deur Sy Woord, Een Dag Op ‘n Slag.
Die Bybel is die Woord waardeur ons God beter leer ken en ontdek hoe Hy ons roep om te leef. Maar om die Bybel te lees, te verstaan wat die teks sê en te weet hoe om dit in jou lewe toe te pas, kan soms uitdagend voel.
Waarop moet jy let wanneer jy lees? Hoe onderskei jy die belangrike lesse? En hoe beweeg jy van bloot lees na ‘n lewe waarin jy God se Woord uitleef?
Hierdie gids stel jou bekend aan die eenvoudige VOLG-metode:
V – Vra God se leiding.
O – Ondersoek die teks.
L – Let op die lesse.
G – Gaan en wees ‘n doener van die Woord.
Die doel is nie om die Bybel vinniger deur te lees nie, maar om God se Woord beter te verstaan en toe te laat dat dit jou lewe beïnvloed.
Waarom Al Drie Gidse Saam?
Die drie gidse vul mekaar aan.
Met Kom Sit By Jesus kry jy hulp om jou tyd saam met Jesus te begin.
Met In Gesprek Met Jesus fokus jy op jou gesprek met die Here – om met Hom te praat en na Hom te luister.
Met Jesus, Die Bybel, En Jy leer jy hoe om God se Woord met meer begrip te lees, daaroor na te dink en dit in jou lewe toe te pas.
Saam help hierdie drie hulpmiddels jou om met groter doelgerigtheid tyd saam met Jesus deur te bring.
Jy kan hulle saam gebruik as deel van jou stiltetyd, of jy net een gebruik en so fokus op die aspek waarin jy die meeste leiding nodig het.
Vir Wie Is Die Nader Aan Jesus Versameling?
Ek glo hierdie versameling kan waardevol wees vir enige gelowige wat nader aan Jesus wil leef.
Dit is vir jou as:
– Jy nuut is op jou pad saam met Jesus en nie mooi weet hoe om stiltetyd te hou nie.
– Jy graag ‘n eenvoudige beginpunt wil hê vir jou tyd in die Bybel en gebed.
– Jy al lank die pad saam met Jesus stap, maar besef dat jy jou tyd met Hom afgeskeep het.
– Jy weer wil begin om gereeld tyd met die Here deur te bring.
– Jy die Bybel beter wil leer lees, verstaan en toepas.
– Jy wil groei in jou gebedslewe en jou verhouding met die Here verdiep.
– Jy eenvoudig ‘n dieper verhouding met Jesus wil hê.
Wat Ontvang Jy Wanneer Jy Die Versameling Koop?
Jy ontvang drie PDF-e-boeke:
– Kom Sit By Jesus
– In Gesprek Met Jesus
– Jesus, Die Bybel, En Jy
Die gidse is digitale produkte wat jy direk op jou rekenaar of foon kan aflaai.
Daar is geen fisiese boeke wat aan jou gepos word nie.
My Uitnodiging Aan Jou
Dis dalk tyd om ‘n bietjie stadiger te leef en doelbewus ruimte te maak vir die Een wat die belangrikste is.
Dalk het jy leiding nodig om te begin. Of dalk het jy net ‘n bietjie aanmoediging nodig om weer op dreef te kom.
Jy hoef nie jou hele lewe oornag te verander nie. Begin eenvoudig. Maak tyd vir Jesus. Lees Sy Woord. Praat met Hom. Luister. En vra Hom om jou te help om dit wat jy leer, uit te leef.
Ek hoop dat hierdie drie gidse jou sal aanmoedig en toerus om dit te doen.
Die Nader Aan Jesus Versameling is ‘n uitnodiging om nader aan Hom te leef, een dag, een gesprek en een gedeelte van Sy Woord op ‘n slag.
Algemene Vrae
Is hierdie versameling geskik as ek nog nooit regtig stiltetyd gehou het nie? Ja. Die gidse is bedoel om jou prakties te help om tyd saam met Jesus te spandeer. Jy hoef nie reeds ‘n vaste stiltetydroetine te hê om te begin nie.
Is die versameling ook vir iemand wat al lank ‘n gelowige is? Beslis. Soms raak ons tyd saam met die Here agterweë te midde van die lewe se verantwoordelikhede. Hierdie gidse kan jou help om weer tyd vir Hom te maak en verder te groei in jou verhouding met Hom.
Moet ek al drie gidse op dieselfde tyd gebruik? Nee. Jy kan hulle saam gebruik of begin met die gids wat die beste by jou huidige behoefte pas. Die voordeel van die versameling is dat jy al drie hulpmiddele tot jou beskikking het.
In watter formaat is die gidse beskikbaar? Al drie gidse is PDF-e-boeke wat jy digitaal kan aflaai en op jou rekenaar of foon kan gebruik.
Ontvang ek gedrukte boeke? Nee. Die versameling bestaan uit digitale gidse. Geen fisiese boeke word afgelewer nie.
Kan ek ‘n terugbetaling kry as ek die versameling gekoop het? Omdat dit digitale produkte is wat afgelaai kan word, word geen terugbetalings toegestaan nadat die aankoop gedoen is nie. Lees asseblief die beskrywing noukeurig voordat jy jou aankoop voltooi.
Kom Sit. Kom Gesels. Kom Leer Jesus Beter Ken.
Ek nooi jou om die eerste tree te gee en tyd te maak vir Jesus.
Mag hierdie gidse jou help om Hom beter te leer ken en nader aan Hom te leef.





Reviews
There are no reviews yet.